Twee SA rolprente haal Baftas-langlys

‘My Octopus Teacher’ is op 7 September verlede jaar op Netflix uitgereik. (Foto: Verskaf.)

My Octopus Teacher, die Suid-Afrikaanse dokumentêr wat verlede jaar deur miljoene mense op Netflix gekyk is, is saam met die oorlogdrama Moffie op die langlys van benoemings vir vanjaar se British Academy of Film and Television Arts-toekennings (Baftas).

Die Kaapstadse nieregeringsorganisasie Sea Change Project se eerste dokumentêr, My Octopus Teacher, is vir beste dokumentêr en beste regisseur benoem.

Hierdie natuurrolprent is ʼn vertoonkas vir die delikate ekostelsel van Suid-Afrika se eie reuse-kelpwoud wat onder die golwe van ons plaaslike kuslyn lê. Dit bevat ook skaars en uitsonderlike beeldmateriaal van ʼn man se onverwagte band met ʼn nuuskierige klein seekat.

My Octopus Teacher neem die kykers op reis na die kelpwoud. Dit volg Craig Foster, ʼn man wat aan uitbranding ly, waar hy begin met ʼn daaglikse duikregime in die yskoue seewater van die kelpwoud om sy batterye te herlaai.

Foster, ʼn bekroonde rolprentvervaardiger en medestigter van die Sea Change Project, het die afgelope nege jaar daaraan gewy om elke dag sonder ʼn duikpak in die Atlantiese Oseaan te duik en die kelpwoud te verken.

In dié tyd kom hy ʼn nuuskierige seekat teë en die rolprent dokumenteer die bewegings van dié dier – iets wat selde in die natuur gedoen word, laat staan nog onder die water – oor ʼn volle jaar. Dit ondersoek die seekat se gewoontes en persoonlikheid as ʼn wese wat die meeste mense nog net op ʼn bord teëgekom het.

Pippa Ehrlich, die regisseur van die rolprent, is ʼn plaaslike rolprentmaker en omgewingsjoernalis wat spesialiseer op die gebied van mariene wetenskap en bewaring. Sy het al saam met van die wêreld se voorste mariene navorsers en onderwaterfotograwe gewerk en is ook ʼn lid van die Sea Change Project.

“Dit is oorweldigend om te weet dat miljoene mense wêreldwyd na ons rolprent gaan kyk. Dit is opwindend vir my as rolprentmaker, maar ook as natuurbewaarder.

“Ons hoop dat die prent plaaslike en internasionale belangstelling in die groot Afrika-kelpwoud sal prikkel en ʼn sinvolle gesprek oor die bewaring van die habitat sal aanwakker – al moedig dit mense net aan om hulle kinders daar te laat snorkel,” het Ehrlich gesê.

Ludwig Baxter, Shaun Smit en Hendrik Nieuwoudt in “Moffie” (Foto: Facebook)

Moffie is die tweede rolprent deur die Suid-Afrikaanse regisseur Oliver Hermanus en is benoem in die Bafta-kategorie vir beste debuut van ʼn skrywer, regisseur of vervaardiger.

Dit is gegrond op ʼn gelyknamige boek deur André Carl van der Merwe en speel in 1981 af. Dit vertel die verhaal van Nicholas, ʼn jong man wat soos talle ander mans in daardie tyd twee jaar van diensplig moet voltooi. Nicholas weet al lank hy is anders en dat daar iets aan hom is wat skandelik en onaanvaarbaar is – iets wat hy ten alle koste moet versteek en ontken.

Hermanus het destyds in ʼn onderhoud aan Maroela Media vertel dat hy glad nie verwag het dat die fliek so goed ontvang sou word nie.

“Om erkenning te kry is ʼn eer en ʼn ware mylpaal vir die fliek. Ons het ʼn wonderlike span gehad wat hieraan gewerk het en die wêreld is baie nuuskierig oor hierdie rolprent,” het Hermanus gesê.

Die benoemings uit die langlys word op 9 Maart bekend gemaak en die toekennings word op 11 April uitgedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

BOKKIEBEK ·

Die film “MOFFIE” is een van die slegste films wat ek nog ooit gekyk het. Die taalgebruik is vreeslik, ek skaam my dood, en dit oorheers die gehalte van die film. Het die film seker 30 minute gekyk toe sit ek dit af….

SwartBees ·

Praat jy uit diensplig ondervinding? Was jou bateljon n spul fairies?

BOKKIEBEK ·

Ek het broers gehad wat wel op die grens was… En wat ookal die omstandighede, VUIL taal bly VUIL taal, en is nooit verskoonbaar nie.

Charlie Brown ·

My Octopus Teacher is ‘n moet sien, vir oud en jonk! So bly om te sien dit word internasionaal benoem. Wel gedaan, en ek hoop dit palm baie toekennings in!

VannieBaai ·

My Octopus Teacher – absoluut briljant!!!!! Ek het my oë uitgehuil en dit was “maar net” ‘n dokumentêr! Sal baie graag meer sulke tipe dokumentêre wil sien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.