Twee SA soldate beseer in Soedan-hinderlaag

Argieffoto

Argieffoto

Twee soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag wat as deel van die VN/Afrika-Unie vredesmag in Soedan ontplooi is, is naby hul basis tydens ʼn hinderlaag beseer.

“Die beseerde soldate is met ʼn helikopter na die hospitaal in El Fashir geneem,” het kapt. Jaco Theunissen, woordvoerder van die SANW, gesê. “Hulle is in ʼn kritieke, maar stabiele toestand in die VN-hospitaal.”

Hy het gesê nog twee soldate het geringe beserings opgedoen in die lokval.

Die lokval het Woensdagmiddag omstreeks 12:35 plaasgevind toe ʼn deel van die 4 SA Infanteriebataljon water by ʼn nabygeleë watergat in Kutum wou gaan haal en toe deur ʼn vermeende rebellegroep aangeval is.

“As dit nie was vir die soldate se vinnige reaksie, hoë standaard van paraatheid en waaksaamheid nie, was dit ʼn ander storie,” het lt.kol. Andries Matlaila, bataljonbevelvoerder, gesê.

Matlaila het gesê die opleiding wat sy troepe in Suid-Afrika ontvang het voordat hulle ontplooi is, tesame met die toerusting wat hulle gebruik, het ʼn deurslaggewende rol gespeel om die aanval te stuit.

Die rebellegroep, wie se motiewe onbekend is, is gedwing om te onttrek weens die uitstaande optrede van die Suid-Afrikaanse soldate.

Die aanval volg ná soortgelyke aanvalle vroeër op Ethiopiese en Tanzaniese magte in die omgewing van Korma, ongeveer 20 km van die Suid-Afrikaanse ontplooiing naby Kutum-basis. Dit is in die noordelike Darfur-streek van Soedan geleë.

Soedannese maak gereed om volgende jaar April of Mei aan ʼn nasionale verkiesing deel te neem en die SANW word vereis om hul ondersteuning te bied as deel van die vredesmag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Apunamous ·

Wow ,die sowt effrikin neshinil diefens fors is deel van die one world police force , “meanwhile ,back art the ranch”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.