Twee SA soldate in DRK dood

Twee Suid-Afrikaanse soldate is Woensdag in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo dood. (Foto: Aubin Mukoni / AFP)

Twee Suid-Afrikaanse soldate is Woensdag in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo dood nadat ʼn mortierbom ’n militêre basis van die kontingent getref het.

Dit is die eerste aangetekende sterftes sedert Suid-Afrikaanse troepe in Desember verlede jaar ontplooi is om die opstand in dié gebied te help stuit.

Nóg drie soldate is in dié voorval naby die oostelike stad Goma beseer, waar konflik oor die afgelope paar dae weer skerp toegeneem het.

“’n Mortierbom het een van die militêre basisse van die Suid-Afrikaanse kontingent getref en die soldate beseer,” het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag Donderdag gesê.

“Twee SANW-soldate is in die indirekte brand dood, terwyl drie soldate beserings opgedoen het.”

Die beseerdes is na die naaste hospitaal in Goma, hoofstad van die konflikgeteisterde Noord-Kivu-provinsie, geneem.

In nóg ’n voorval is vier mense, onder wie twee lede van die Suid-Afrikaanse vredesmagte, vroeër die maand tydens twee onderskeie aanvalle beseer toe meer as 40 skote op die SANW se enigste ontplooibare Oryx-helikopter afgevuur is.

Inligting dui in hierdie stadium daarop dat albei aanvalle deur vermeende M23-rebelle uitgevoer is.

Dié troepe was glo deel van ʼn groep wat ʼn mediese ontruiming uitgevoer het toe hulle in die Karuba-streek van die Noord-Kivu-provinsie onder skoot gekom het. Die Oryx was glo van Rwindi na Goma onderweg.

Gewapende groepe het ʼn groot deel van die mineraalryke oostelike DRK vir drie dekades geteister, ʼn nalatenskap van streeksoorloë wat in die 1990’s en 2000’s opgevlam het.

Die M23-groep, wat hoofsaaklik uit Tutsi’s bestaan, het dele van die gebied in Noord-Kivu verower sedert hy in 2021 weer die wapens opgeneem het ná jare van onaktiwiteit. Die streek is geteister deur geweld in die dekades sedert streeksoorloë in die 1990’s.

Die rebelleveldtog het meer as een miljoen mense verplaas.

Konflik het die afgelope dae skerp toegeneem by die strategiese dorp Sake, wat sowat 20 kilometer van Goma af geleë is.

Die DRK het sy kleiner buurland Rwanda herhaaldelik daarvan beskuldig dat hy die Tutsi-geleide M23 ondersteun om beheer oor die DRK se ryk minerale hulpbronne te bekom – ’n aanklag wat dié land ontken.

Die VSA en verskeie ander Westerse lande, sowel as onafhanklike VN-kundiges, het egter by verskeie geleenthede aangedui dat hulle saam met die DRK se beoordeling stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

latie ·

ja stem saam moes by die zimbabwe grense gaan werk gewees het en nie in pretoria kantoor slaap nie

Minnie ·

Hoe op aarde kan ons soldate EN enigste Oryx na n ander land gestuur word? Is ons President en sy ministers blind, doof en oningelig?
Iemand moet hul laat weet SA se misdaad is buite beheer…..
En nou het ons nie meer die beste helikopter ook nie……als vir GEEN doel nie !!!

Casper ·

Nog ‘n flater van die a n c wat hulle gaan kos by die stembusse.Daar gaan nog baie van ons soldade snuiwel want hulle ken nie van gorellaoorlog nie.Viva a n c,viva.

Chris ·

Dis nie die enigste Oryx nie maar wel die een wat daar ontplooi was [daar is ‘n verskil]

Andre ·

…die rebelde is waarskynlik beter opgelei en bewapen as die SA speelgroepie.

Hedda ·

Nee, dit is nie die enigste Oryx nie, Chris, maar die enigste een wat “ontplooibaar” was, nie ontplooi was nie [daar is ‘n verskil].

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.