Twee SA vroue hou medalje-hoop lewendig

Tatjana Schoenmaker. (Foto: Anton geyser/SASPA/SASI)

Tatjana Schoenmaker en Kaylene Corbett het hul plekke bespreek in Vrydag se 200 m-borsslageindronde by die Olimpiese Spele in Tokio.

Schoenmaker het die vinnigste gekwalifiseer vir die eindronde nadat sy vroeg Donderdagoggend in die tweede halfeindronde eerste geëindig het in ’n tyd van 2:19.33. Haar tyd was net 17 sekondes stadiger as die 2:19.16 wat sy in Woensdag se uitdunronde geswem het en sodoende nóg ’n Olimpiese rekord laat spat het.

Kaylene Corbett in aksie. (Foto: Anton geyser/SASPA/SASI)

Corbett het die vierde vinnigste kwalifiserende tyd vir die eindronde opgestel nadat sy in die eerste halfeindronde van die 200 m-borsslag ’n persoonlike beste tyd van 2:22.08 geswem het. Amerika se Lilly King was tweede in dié halfeindronde en het vyfde vinnigste vir die eindronde gekwalifiseer.

Evgeniia Chikunova, wat onder die vaandel van die Russiese Olimpiese Komitee (ROC) deelneem, het die tweede vinnigste kwalifiserende tyd vir die eindronde opgestel en Annie Lazor van Amerika die derde vinnigste tyd.

Schoenmaker het Dinsdag Suid-Afrika se eerste medalje by die Olimpiese Spele gewen toe sy tweede in die 100 m-borsslag geëindig het. Sy het sodoende die eerste vrou in twee dekades, naas Penny Heyns, geword om ’n medalje vir Suid-Afrika in die swembad te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oljetter ·

Is die geleerde persoon wat die artikel geskryf het ń vertroud met hoe n horlosie werk? As haar 2de tyd 17 sekondes stadiger was as die eerste moes Tatjana al by due huis gewees het, of het sy dalk agteruit geswem?

Janice du Plessis ·

Dagsê Oljetter
Elke swemitem vind in verskillende rondes plaas om die aantal deelnemers minder te maak tot daar uiteindelik net agt in die eindronde swem. Indien ‘n swemmer in die eerste ronde ‘n tyd wat vinnig genoeg is aanteken gaan hul deur na die volgende ronde en indien hulle daar ook ‘n tyd wat vinnig genoeg is aanteken gaan hul deur na die eindronde. Tatjana se tyd in die eerste ronde was vinniger as die tyd wat sy in die volgende ronde aangeteken het. Sy het egter steeds na die eindronde deurgedring aangesien sy die vinnigste kwalifiserende tyd aangeteken het.
Vriendelike groete
Janice
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.