Twee sal sit oor konstabel se moord

Moeketsi Edward Koto (links) en Colesele William Ndalose (Foto: Vrystaat-Valke)

Colesele William Ndalose (40) en Moeketsi Edward Koto (32) is in die Bloemfonteinse hooggeregshof gevonnis op aanklag van die moord op ʼn polisiekonstabel, poging tot moord op nog ʼn polisiebeampte en roof.

Ao. Fikiswa Matoti, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê ʼn groep verdagtes het op 10 Mei 2022 ʼn supermark in Wepener in die Vrystaat betree. Hulle het vuurwapens op die eienaar gerig.

“Hulle het kontant, koeldrank en sigarette geroof voor hulle weggehardloop het.”

Die polisie in Wepener is in kennis gestel van die rooftog en hulle het ondersoek ingestel.

“ʼn Skietery het ontstaan toe die verdagtes besef het hulle is in ʼn hoek gedryf.”

Konstabel Kananelo Mokgothu (22) is verskeie kere geskiet. Hy is op die toneel dood verklaar. Sy kollega is geskiet en beseer.

ʼn Saak van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede is aanhangig gemaak en die saak is aan die Valke se eenheid in Bloemfontein, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, oorhandig.

Wendy Susanne Jacobs (43), Ndalose en Koto is in hegtenis geneem.

Jacobs het op 3 Oktober 2023 in die hof verskyn en het skuld beken. Sy is 10 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.

Ndalose is 10 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, 10 jaar vir die roof van vuurwapens wat aan polisiebeamptes behoort, 10 jaar vir poging tot moord en lewenslange tronkstraf op aanklag van moord. Alle vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Koto is 12 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, 12 jaar vir die roof van vuurwapens wat aan polisiebeamptes behoort, 10 jaar vir poging tot moord en lewenslange tronkstraf op aanklag van moord. Alle vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Genl.maj. Mokgadi Bokaba, hoof van die Valke in die Vrystaat, het die ondersoekbeampte geloof wat onverpoosd gewerk het om seker te maak die oortreders word uit die samelewing verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.