Twee samaritane red mense uit see

Zander Hampson en Charne Hirst (Foto: NSRI Oos-Londen)

Twee inwoners van Oos-Londen het vinnig reageer en vier mense uit die see gered ná hulle in sleurstrome beland het.

Geoff McGregor, bedryfsbestuurder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Oos-Londen, sê ooggetuies het Woensdag laat weet dat vier mense in die moeilikheid beland het by Nahoonstrand.

“Ons het reageer met die seereddingsvaartuig Spirit of DHL en Priority Care-ambulansdiens en Alderson-ambulansdiens het ook op die oproep reageer,” het McGregor gesê. “Twee plaaslike vroue en twee plaaslike mans het in die see in sleurstrome beland.”

ʼn Plaaslike branderplankryer, Zander Hampson (30), was daar naby in die water en het hul hulpkrete gehoor. Hy het hulle van agter die golwe genader en een vrou bewusteloos aangetref. Sy het met haar gesig na onder in die water gedryf.

“Zander is ʼn veiligheidsbeampte en voormalige lewensredder en ambulans-paramedikus. Hy het sy kennis en opleiding gebruik en sy branderplank onder die vrou gesit. Hy het haar omgerol sodat sy met haar gesig na bo op die plank kon lê.”

Met die bewustelose vrou op sy branderplank, en een man en een vrou wat aan sy plank vasgehou het, het hy met KPR begin deur sy elmboog op die vrou se bors te druk.

“Zander se vriendin, Charne Hirst (28), het ook daar naby geswem. Sy het dadelik reageer om nog ʼn man te help. Hy was op ʼn swemplank en Charne het sy swemplank gebruik as ʼn dryfmiddel. Sy het die man veilig na die kus gebring en alarm gemaak. Sy het die NSRI in kennis gestel van die noodgeval.” Dié man het nie later enige mediese bystand benodig nie.

Toe sy seker is dat die NSRI reageer het Charne, ʼn plaaslike argitek, teruggekeer na die water met die man se swemplank om Zander en die drie ander persone uit te kom.

“Zander het later aan die NSRI gesê dat hy in dié stadium reeds pootuit was. Hy het die swemplank onder sy branderplank geplaas om ʼn beter platform te skep vir die bewustelose vrou. Hy het Charne opdrag gegee om die KPR oor te neem en het haar gelei in die tegniek.”

Die groep het verder die see in gedryf.

Die seereddingsvaartuig het hulle bereik en hulle is op die boot na die kus gebring waar paramedici behandeling oorgeneem het.

Die twee vroue en man is na ʼn hospitaal geneem. Een van die vroue was in ʼn kritieke toestand. “Ons verneem sy bly in ʼn ernstige toestand in die hospitaal. Ons is vol verwagting dat sy ten volle sal herstel.”

Die NSRI het die samaritane Zander en Charne geloof vir hul pogings om vier mense se lewens te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
ONTPS

Welgedaan aan die twee!

Chantel

Helde!!!