Twee SA’ners dood in olifantaanvalle

Shepherd Chuma (Foto: Knysna-olifantpark/Facebook)

Twee Suid-Afrikaners is in afsonderlike voorvalle dood nadat hulle deur olifante aangeval is.

Die jongste voorval het Saterdag by die Knysna-olifantpark plaasgevind. Shepherd Chuma, ʼn olifantgids en -oppasser, is tydens die voorval dood.

Hy en ander gidse was besig om ʼn trop olifante na hul nagkamp te lei nadat hulle die dag in ʼn kamp langs die park deurgebring het waar hulle vry rondloop.

Die park het gesê daar word vermoed dat Saterdag se slegte weerstoestande moontlik ʼn bydraende faktor tot die olifant se ongekende optrede was. Daar is geen verdere inligting oor die presiese omstandighede rakende die voorval bekend gemaak nie.

Chuma het vir langer as 10 jaar by die park gewerk. “Hy was ʼn gunsteling onder die olifante en was geliefd en gerespekteer deur sy kollegas en vriende. Menige gas en vrywilliger sal hom onthou vir sy vriendelike houding en sy stralende glimlag,” het die park in ʼn verklaring gesê en sy medelye met Chuma se vrou, kinders, familie en vriende betuig.

In nog ʼn voorval is ʼn 71-jarige Suid-Afrikaner verlede Woensdag in Zimbabwe deur ʼn olifant doodgetrap.

Michael Bernard Walsh, ʼn veearts van Kaapstad, is by Mana Pools in die Zimbabwiese Nasionale Park deur ʼn olifantkoei bestorm. Walsh is ten aanskoue van sy 41-jarige seun doodgetrap.

ʼn Week voor Walsh se dood is ʼn senior beampte van ʼn teenstropingseenheid deur ʼn olifant in die Victoriawaterval-omgewing doodgetrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

Hanteer ALTYD as wilde diere. Kon nog nooit verstaan waarom nuuskierige toeriste in wildtuin dit so naby die grotes waag…veral waar jong kalfies is. Mens leer ook maar nooit

Harley Davidson ·

Ek dink nie die olifant was gemaak as ‘n troetel dier nie hy was geskep om in die wild te funksioneer maar my medelye vir die oorledenes hulle het dit nie verdien nie .

Lindi ·

Gaan die olifante nou weer doodgemaak word? Hulle BLY wilde diere!!!

Kirst ·

Ek het in 2005 by ‘n lodge in Botswana met opgeleide olifante gewerk. Ons het mekaar en die gaste altyd herriner; “They are trained NOT tamed”. Alhoewel ek vrek baie van olifante geleer het en dankbaar is vir die geleentheid, het ek na 5 maande bedank. Na my ervaring met olifante in aanhouding glo ek hulle moet eerder afgemaak word as om aangehou te word. Hulle geniet dit definitief nie, en dit dra myns insiens geensins tot hulle bewaring by nie. Ek het simpatie met die man wat sy lewe verloor het, maar as die olifante nie in aanhouding was nie het dit ook nie gebeur nie.

Inkpot ·

Wanneer gaan mense wilde diere begin respekteer en nie namens hulle dink nie, soos die leeu is mak, die olifante sal nie aanval nie en so gaan dit aan.
Wilde diere moet vry rondbeweeg en nie rondgelei word na kampe waar hulle moet oornag en beheer word deur die mens nie.
‘n Vriendin is drie jaar gelede sleg beseer toe sy deur ‘n tier aangeval is nadat die eienaar haar verseker het dat die tier mak is en sy aan hom kan vat.
Weereens het die eienaar namens die dier besluit.
So jammer vir Shepherd wat net sy werk gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.