Twee SA’ners draf Himalajas kaf

Ryno Griesel (links) en Ryan Sandes by hul eindbestemming. Foto: Via Ryan Sandes / Facebook

Ryan Sandes en Ryno Griesel, twee Suid-Afrikaanse ultra-veldwedloop-atlete, het Sondag nog ʼn wêreldrekord laat spat deur in die vinnigste tyd die Himalajas in Asië oor te steek.

Sandes en Griesel het sub-zero temperature, vriesbrand, uitputting en hongerte ervaar in hul poging om die Himalajas se FKT (Fastest Known Time) te breek.

Hulle het Sondag die Grand Himalaya Trail se FKT in 25 dae, 3 uur en 24 minute kafgedraf. Die vorige rekord het op 28 dae, 13 uur en 56 minute gestaan.

Die twee avonturiers het op 1 Maart met die epiese roete van nagenoeg 1 400 km oor die Himalajas-bergreeks van Hilsa tot Pashupatinagar in Nepal begin.

“Hierdie was die grootste avontuur in my lewe, maar ongelooflik uitdagend,” het Sandes by die eindpunt gesê.

Volgens hul borg, Red Bull, moes die twee tydens hul poging swaar sneeubedekte berge oorsteek in erge weersomstandighede wat ongewoon was vir die tyd van die jaar. Hulle het vriesbrand op hul vingers gekry, ernstige maagkwale opgedoen, by tye gesukkel om asem te haal en het selfs ʼn noue ontkoming met die dood gehad.

“Ons was die eerste mense wat die Dolpa-gebied binnegegaan het sedert die begin van die winter. Dit het ons stadiger gemaak en dit moeilik gemaak om te navigeer. Ek het vriesbrand opgedoen omdat ek die heeltyd my handskoene moes uittrek om die kaart te lees,” het Griesel gesê.

“Een van die dorpies op ons kaart in daai gebied, waar ons gehoop het om oor te slaap, was heeltemal verlate toe ons daar aankom. Ek glo eerlikwaar dat as ons nie op ʼn monnik in ʼn klooster afgekom het nie, ons daai aand sou doodvries,” het Griesel bygevoeg.

In Maart 2014 het Sandes en Griesel ʼn nuwe wêreldrekord opgestel toe hulle die Drakensberg in minder as 42 uur oorgesteek het.

Die roete was 207 km lank en het van die Sentinel-motorparkering in die noorde tot by die Bushman’s Nek-grenspos in die suide gestrek. Sandes en Griesel het dit binne 41 uur en 49 minute voltooi. Die roete neem ervare stappers gewoonlik tussen ses en tien dae om te voltooi.

Sandes en Griesel keer Dinsdag terug na Suid-Afrika. Ondersteuners kan hulle by die Kaapstad-lughawe gaan ontvang.

Ryan Sandes (regs) en Ryno Griesel tydens hul epiese toer. Foto: Ryan Sandes / Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Derick ·

Well done boitjies ?? …… julle verdien elkeen ‘n Bells ?? …. (en dan nog meer)

Oom Kalahari ·

Baie geluk aan hierdie twee avonturiers, jul maak Suid Afrika trots. Glo dit moes vir jul ‘n groot uitdaging asook uitmergelend gewees het en kos baie stamina en fiksheid. Nogmaals baie geluk jul is veilig en gesond en hoop baie sal daar wees om jul terug te verwelkom.

GJ Enslin ·

Baie geluk julle twee MANNE. Voorwaar ‘n uitstaande prestasie.

Marthinus Willemse ·

Die laaste keer wat ek gehardloop/gedraf het, was Mandela nog president.

Trudie ·

Ryno Griesel land Dinsdag 10:45 by OR Tambo (net Ryan Sandes land in Kaapstad 12:00). Ondersteuners welkom by beide.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.