Twee SA’ners onder vermistes in Visrivier-ravyn

Samantha en Trevor Burger (Foto: Sam Burger, Facebook)

Tien toeriste, onder wie twee Suid-Afrikaners, het die naweek in die Visrivier-ravyn in Namibië vermis geraak.

Verskeie groot mediapublikasies in Namibië berig dat die Namibia Wildlife Resorts (NWR) se soekspanne reeds ses van die tien vermiste toeriste opgespoor het.

Onder dié groep was Trevor Burger (63) en sy vrou, Samantha (50), van Franschhoek in die Wes-Kaap.

NWR se woordvoerder, Nelson Ashipala, kon nie bevestig of die egpaar deel is van die ses wat opgespoor is of die vier wat steeds vermis word nie.

The Namibian en Informanté berig die groep toeriste het hul reis Saterdag begin. Hulle het ʼn noodroep uitgestuur nadat hulle die eerste kampplek bereik het.

“Ons span het hulle na die kampplek gehaas – waar die groep aangedui het hulle is – maar ons het hulle nie daar gekry nie,” het Ashipala gesê.

Dit is nog nie seker hoe en waar die ses toeriste opgespoor is nie.

Ashipala het die publiek verseker dat die NWR-reddingspan en die departement van omgewing, toerisme en bosbou onverpoos na die groep toeriste soek.

“Ons doen ʼn beroep op alle toeriste wat die Visrivier Canyon-staptog aanpak om asseblief veiligheid te verseker deur by die roetes te hou en waar moontlik ʼn gids vir hierdie onderneming te gebruik,” het Ashipala gesê.

Informanté berig die Burger-egpaar se dogter, Tana Lancaster, het Donderdagaand laas van haar ouers gehoor.

Lancaster, ook van Suid-Afrika, het dringende oproepe gedoen vir hulp om haar ouers te vind.

Sy het gesê hulle is baie fikse en aktiewe mense, en het al voorheen in die ravyn gestap. “Hulle is veronderstel om elke aand te laat weet hulle is veilig en ons het sedert Donderdagaand niks van hulle gehoor nie,” het Lancaster gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Groep van 10 en ses reeds opgespoor. Dit beteken die ander 4 het van die groep afgedwaal. Indien hulle as ‘n groep saamstap, is dit die stapgids se plig om toe te sien dat almal gereeld by “checkpoints” aanmeld voordat die groep verder stap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.