Twee SA’ners uit koma ná gru-ongeluk in VSA

Callum Borthwick in die hospitaal. Foto: Facebook

Callum Borthwick in die hospitaal. Foto: Facebook

Twee Suid-Afrikaners wat albei in ʼn koma was nadat hulle byna drie weke gelede in ʼn ernstige motorongeluk in Kansas in die VSA was, is albei wakker en toon reaksie wanneer daar met hulle gepraat word.

Callum Borthwick (20) en Jan du Plessis (23) het albei ʼn soortgelyke breinbesering opgedoen nadat hul motor in St. John, ʼn dorpie in die Stafford-distrik, deur ʼn heining gebars, oor ʼn oprit gegly en teen ʼn telefoonpaal tot stilstand gekom het. Borthwick het ook ʼn rugwerwel gekraak, terwyl Du Plessis se enkel vergruis en sy voorarm, sleutelbeen en pelvis gebreek is.

Megan Borthwick, Callum se suster, het aan Maroela Media gesê haar broer en Jan werk albei op Hearn Farms in die distrik waar hulle help met die oes. Die twee het mekaar in Amerika ontmoet waar hulle goeie vriende geraak het. Jan was op skool by die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem in die Vrystaat, terwyl Callum ʼn oudleerder van die Hillcrest High School in Durban is.

Jan du Plessis. Foto: Facebook

Jan du Plessis. Foto: Facebook

Megan het gesê Callum en Jan word albei in die Wesley Medical-hospitaal in Wichita behandel. Albei mans se ma’s is tans by hulle, terwyl hul pa’s reeds teruggekeer het na Suid-Afrika.

“Callum is nie meer in die waakeenheid nie en word nou in die hoësorgeenheid behandel. Hy kan vir redelike lang tydperke sy oë oopmaak en praat al ’n bietjie, hoewel dit nie baie sin maak nie,” het sy gesê. “Hy herken egter die mense om hom en dit lyk asof hy verstaan wat vir hom gesê word. Maar hy kan glad nie onthou dat hy in ʼn ongeluk was nie.” Sy het gesê besonderhede oor wat die ongeluk veroorsaak het, is vaag aangesien nie een van die mans die ongeluk kan onthou nie.

Callum Borthwick. Foto: Facebook

Callum Borthwick. Foto: Facebook

Volgens Megan het Jan erger beserings as Callum opgedoen en is sy toestand effens swakker. “Hy maak ook sy oë vir kort rukkies oop, maar hy kan nie so baie soos Callum reageer nie. Ek dink sy lyf het ʼn harder knou weg as Callum s’n. Hy [Jan] moes vroeër die week ʼn agt uur lange operasie ondergaan om sy beenbreuke te heg.”

Sy het gesê Callum sal terugkom Suid-Afrika toe sodra hy vanuit ’n mediese oogpunt in staat is om te vlieg. Hy sal hier verder herstel en die nodige behandeling kry. “Dit was baie erg toe ons daardie oproep van my nefie [wat saam met Callum werk] ontvang om vir ons te sê hulle was in ʼn ongeluk. Dit was ʼn rowwe tyd die afgelope paar weke, maar ons is dankbaar dat hulle so goed herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.