Twee SAUK-raadslede bedank

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Twee SAUK-raadslede het Woensdag in die parlement bedank waar hulle voor die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie verskyn het.

“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die raad disfunksioneel is. Die raad moet geskrap word en ek gaan vandag as raadslid bedank,” het Krish Naidoo gesê. Naidoo is besonder uitgesproke oor die heraanstelling van Hlaudi Motsoeneng.

Naidoo het aan die komitee gesê die appèlhof het die laaste sê gehad oor Motsoeneng se toekoms by die openbare uitsaaier. “Dit is die finale deur. Jy is nie langer ʼn werknemer van die organisasie nie en dis so maklik soos dit. Die punt dat die appèlhof se besluit niks met Motsoeneng as werknemer te doen het nie is absoluut belaglik. Die persoon wat die raad vir die SAUK gegee het moet geskiet word.”

Naidoo het ook uitgevaar teen James Aguma, waarnemende hoof van die SAUK, en gesê hy gebruik nie sy magte regverdig nie. “Wanneer ek luister na ʼn uitvoerende hoof wat in sulke alledaagse terme praat maak dit eintlik ʼn saak uit oor hoekom die raad ontbind moet word.”

Vusi Mavuso, ook ʼn raadslid, het gesê hy stem saam met Naidoo en dat hulle uitgesluit word wanneer die raad besluite neem. Mavuso het aan LP’s gesê hy het nie die geleentheid gehad om die voorlegging wat aan hulle gedoen is voor die tyd te sien nie.

Hy het gesê die raad is disfunksioneel en dat “behoorlike prosedures” nie gevolg word tydens die neem van besluite nie. Mavuso het gesê hy gaan om dié rede uit die raad bedank.

Die raad het vroeër volgehou dat hy Motsoeneng regmatig in ʼn ander senior pos aangestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakes ·

#brandsauk.
Eis verniet tv en funksionele raad. Ai, sal seker alleen gaan betoog.

Cherokee ·

Daar is iets vreemds, iets onheilspellend aan die gang by die SAUK. Dit is soort van asof hulle weier om verkeerd bewys te word. Dit is egter ook ‘n eienskap van die ANC-regering.

Jan ·

Twee bedankings. Plek vir twee marionette. Lekker man, lekkerrr….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.