Twee sekerheidswagte in Pretoria geskiet

Die helikopter wat die een sekerheidswag na ‘n hospitaal vervoer het. (Foto: Netcare 911)

Die Gautengse polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord en motorkaping nadat twee sekerheidswagte Woensdagoggend in Pretoria geskiet is. ’n Bakkie wat Apple-produkte na ’n winkelsentrum moes vervoer, is terselfdertyd gekaap.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ’n Toyota-bakkie was omstreeks 08:00 met elektroniese ware na die Woodlands-winkelsentrum onderweg. Die bakkie is deur twee sekerheidswagte in ’n sekerheidsmotor na die winkelsentrum begelei.

Volgens Makhubele het die bestuurder van die bakkie op die hoek van Goede Hoop- en Nellmapiusweg opgemerk dat sekerheidsmotor nie meer agter hom gery het nie. Die bestuurder het besluit om van die pad af trek en vir die sekerheidswagte se motor te wag.

“Die bestuurder het aangedui dat ’n Ford Focus langs die bakkie stilgehou het waarna die passasier van dié voertuig ’n vuurwapen op hom gerig het. Drie ander mans het uitgeklim en die bestuurder en sy insittendes beveel om op die grond buite hul voertuig te gaan lê.

“Die bestuurder van ’n ander voertuig, ’n silwer BMW, het toe nader gekom en al wat die bestuurder gehoor het, was geweerskote,” het Makhubele verduidelik.

Volgens Makhubele het die bestuurder van die bakkie kort daarna van die grond af opgestaan en na die sekerheidsmotor gestap waar hy die gewonde sekerheidswagte in die motor aangetref het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het in ’n verklaring gesê paramedici is omstreeks 08:06 na die toneel ontbied.

Een van die sekerheidswagte is gedurende die voorval in die maag geskiet en is in ’n kritieke toestand per helikopter na ’n hospitaal gevlieg vir mediese behandeling. Die ander een is in die enkel geskiet en is per ambulans na ’n hospitaal geneem, het Herbst gesê.

Volgens Makhubele is selfone, tablette en horlosies van Apple in die proses gebuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fedup ·

Condolences to the families.
This kind of things will never ever end.

marius ·

Dis sekerlik alles die Rykielouw se skuld ….volgens hoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.