Twee seuns verdrink, een beseer in rivier

Die rivier (Foto: Verskaf)

Die polisie ondersoek ʼn voorval waarin twee seuns verdrink het en een kritiek beseer is toe hulle Woensdagmiddag in ʼn rivier by Seshego buite Polokwane in Limpopo gaan swem het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die twee seuns, onderskeidelik nege en 12 jaar oud, het saam met nog twee seuns die middag in die rivier gaan swem. Hul ouers was glo nie bewus daarvan dat hulle gaan swem het nie.

“Een van die seuns het nie saam met die ander seuns in die rivier gespring nie,” het Mojapelo gesê. Hy het kort daarna besef dat sy maats in die moeilikheid is en huis toe gehardloop om hulp te kry.

Lede van die gemeenskap het hulle na die rivier gehaas en kon daarin slaag om een van die seuns te red. Die ander twee het reeds onder die water verdwyn.

Die polisie het sy soek-en-reddingspan ontplooi wat die twee seuns se liggame uit die water gehaal het. Hulle is op die toneel dood verklaar.

“Die seun wat gered is, is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.”

Die seuns wat verdrink het, is geïdentifiseer as Siyabonga Maepa (12) en Thabiso Maepa (9).

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die gemeenskap, en veral ouers en voogde, versoek om te alle tye te weet waar hul kinders is.

“Aangesien ons reeds in die reënseisoen is, word mense gewaarsku om nie riviere wat in vloed is te betree nie, want dit is uiters gevaarlik,” waarsku Ledwaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre ·

Hartverskeurend, mag julle twee in vrede rus en in die poele van die hemel baljaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.