Twee seuns verdrink op skooluitstappie

Polisieduikers het die liggame van die seuns, onderskeidelik 13 en 16 jaar oud, uit die water gebring. (Foto: Tshwane-nooddienste)

Twee leerders van die Daveyton Skills School in Benoni is dood nadat hulle Maandag tydens ʼn uitstappie in die Hennopsrivier in Centurion verdrink het.

Luidens ʼn verklaring van die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, was die seuns deel van ʼn dissiplinekamp by ʼn oord langs die Hennopsrivier.

Die kamp is volgens voorlopige inligting aangebied deur die nieregeringsorganisasie Rising Stars Generation. Dit het Vrydag begin en die seuns sou weer Maandag terugkeer huis toe.

“Nadat die bedrywighede Maandag ten einde geloop het, het een van die leerders glo na die nabygeleë rivier gehardloop, naby die kampterrein se ingang. ʼn Tweede leerder het hom gevolg in ʼn poging om hom terug te bring,” lui die verklaring van die departement.

Die leerder wat aanvanklik weggehardloop het, het glo in die rivier gespring, met die tweede een agterna om hom te probeer red.

“Ongelukkig het albei leerders gevolglik verdrink.”

Hulle was onderskeidelik 13 en 16 jaar oud.

Een leerder het glo probeer om ‘n ander te red toe altwee verdrink het. (Foto: Tshwane-nooddienste)

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê nooddienswerkers het Maandag om 15:14 ʼn noodoproep ontvang waartydens die voorval aangemeld is. Met nooddienswerkers se aankoms op die toneel was die seuns egter reeds dood.

Polisieduikers het die leerders se liggame uit die water gebring en paramedici het hulle op die toneel dood verklaar.

“Die polisie ondersoek die omstandighede in aanloop tot die verdrinkingsvoorval,” sê Mabaso.

Die provinsiale onderwysdepartement sal na die skool gestuur word om traumaberading en ondersteuning te gee.

“Ons is diep bedroef deur die tragiese dood van die leerders tydens ʼn skooluitstappie. Ons betuig ons opregte medelye met die onderskeie families en die Daveyton Skills School-gemeenskap,” sê Chiloane.

Die slagoffers se name is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Casper ·

Hoeveelleerders het nou al tydens skooluitstappies verdrink.Is dit nie tyd dat daar na alternative terreine gekyk moet word vir hierdie skooluitstappies nie.

Anna84 ·

Nou gaan die arme mense by die plek waar die kamp aangebied is, seker verantwoordelik gehou word.

MyOpinie123 ·

Ek voel jammer vir die seuns se gesinne. Dit gesê die Deptement van Onderwys het dubbel standaarde. My seun se groep is 2 kamp/toer geleenthede ontneem a.g.v. die feit dat daar is ‘n swembad is. Almal in die groep kan swem en daar is behoorlike toesig. Hoe kry Daveyton Skills skool dit reg om hulle toer goedgekeur te kry?

mattk ·

Die verdrinkings is baie hartseer.
Die Hoof, Beheerligaam (afhangend van waar die skool is) en Oordbestuur gaan seker nou blameer word.

Ian ·

Iets klink nie reg nie. Die twee is nie daar om hulle kant te stel nie. Waar was die onderwysers? Kan nie die oord verantwoordelik hou nie.

Aai ·

Hoekom swem jy as jy weet jy kan nie dink dit is die probleem hier.Groeps druk

Andrew ·

Let hoe anders die “Rising Stars Generation” opsigters/ onderwysers hanteer word in vergelyking met die vorige twee tragiese soortgelyke insidente.

Anel ·

Dit was ‘n disipline kamp! Dit sê al baie. Ek het al gehoor die kinders wil nie daar wees nie. Hulle het blykbaar probleme en dan moet hulle bietjie gaan maniere leer. En van die kinders probeer wegloop want hulle wil nie daar wees nie. En dan is dit nog amper winter en koud so daar sou nie wateraktiwiteite wees nie. Niemand kan vir hulle dood veranteoordelik gehou word nie. Wat ek graag wil weer, die Voortrekkers hou al vir hoe lank waterkampe en vlotboukampe en nog nie een kind het al verdrink nie. Omdat sekere bevolkingsgroepe se kinders nie kan swem nie nou word almal oor fieselfde kam geskeer. In Nederland, byvoorbeeld, moet alle skoolkinders ‘n mate van swemoderrig kry voordat hulle op uitstappies mag gaan. Maar nou ja, hier word iets eerder gestop as om die oorsaak aan te spreek.

Delia ·

Waar is die kinders se selfdissipline. Op daai ouderdom sé die Wet hulle mag self besluit oor so baie goed. Die kind het self besluit om te gaan swem. Niemand is verantwoordelik behalwe die 2.

Bolandse Nooi ·

“Dissipline kamp”??? Dit laat DADELIK die rooi ligte by my flikker. Watter DISSIPLINE KAMP? Dit klink amper soos die destydse “verbeteringsskole” waarheen stout kinders gestuur is.

George ·

@Ian, jy kan absoluut die oord ook verantwoordelik hou. As dit deur hulle gronde loop, is daar baie reels en regulasies wat gevolg moet word, en as ek so op die foto kyk, dit nie gevolg is nie. As jy skoolkampe en groepe host, het jy nog regulasies wat by kom, wat ook nie hier te siene is nie.

Bolandse Nooi ·

Durf ek dit waag om te sê dat dit vir my klink asof die een seun selfdood gepleeg het deur in die water te spring a.g.v. wat aangaan by hierdie “dissipline kamp” en dat die ander seun verdrink het toe hy eersgenoemde wou red? Ek hoop ek is verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.