Twee seuntjies sterf in staaltrommel

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Twee Oos-Kaapse seuntjies is dood nadat hulle vermoedelik in ʼn staaltrommel geklouter het en daar vasgekeer is.

Konke Nobhokisi (5) en Inikile Mbuyazwe (6), twee seuntjies wat langs mekaar in Libode gewoon het, was Donderdag in die sorg van Konke se 20-jarige suster, sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

“Toe Konke se ma omstreeks 16:00 teruggekeer het, kon sy die kinders nêrens vind nie en het sy begin navraag doen. ʼn Soektog na die kinders is begin en teen 17:00 is hulle dood in ʼn staaltrommel aangetref.

“Hoewel die presiese omstandighede nog ondersoek word, is die vermoede dat die deksel toegeslaan het toe hulle ingeklouter het,” sê Naidu.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Genl.maj. Phumzile Cetyana, distrikskommissaris van die OR Tambo-polisiëringsdistrik, het sy diepe medelye met die seuntjies se families betuig en ʼn beroep op ouers en versorgers gedoen om te alle tye waaksaam te bly wat betref kinders se nuuskierigheid en onskuld.

“Dit is in hul aard om te gaan ondersoek instel en te speel, maar dit is ons verantwoordelikheid as volwassenes om te alle tye hul veiligheid te verseker,” sê hy.

“Ons pleit by ouers en voogde om die veiligheidsmaatreëls by hul huise te hersien, bewus te wees van moontlik gevaarlike gebiede, en ʼn wakende oog oor kinders te hou, veral wanneer hulle speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.