Twee sirkusleeus gestroop jaar ná hul gered is

Emoya Big Cat Sanctuary het hierdie foto op hul Facebook-blad gedeel saam met nuus oor José en Liso se dood.

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat twee sirkusleeus wat verlede jaar uit Peru en Colombia gered is Sondag wreed deur stropers doodgemaak en afgeslag is nie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee leeumannetjies is vermoedelik Sondagnag doodgemaak aangesien hulle deur die dag lewend gesien is. Hul koppe, pote en velle is verwyder. Ngoepe het gesê dit is nog nie duidelik of die leeus eers vergiftig is nie en dit sal deel vorm van die polisie se ondersoek.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie volg tans sensitiewe inligting op wat ons uit die gemeenskap ontvang het. Daar is ook spore rondom die leeus se karkasse gevind. Ons hoop dat ons binnekort ʼn deurbraak sal hê,” het hy gesê.

Een van die voormalige sirkusleeus word vrygelaat in Emoya Big Cat Sanctuary in Vaalwater, Limpopo (1 Mei 2016). Foto: AP Photo/Themba Hadebe)

Die twee leeus was deel van 33 sirkusleeus wat uit Peru en Colombia gered is en in Mei verlede jaar na die Emoya Big Cat Sanctuary op die Bahati-landgoed buite Vaalwater in Limpopo gebring is. ʼn Sirkus in Colombia het nege van die leeus oorgegee. Die ander 24 leeus is gered tydens klopjagte by sirkusse in Peru deur die dierebeskermingsorganisasie Animal Defenders International (ADI).

Daar is wêreldwyd oor die redding van die leeus en hul vervoer na Suid-Afrika berig. Sommige van die leeus was blind en sonder tande ná jare lange mishandeling.

Minunette en Savannah Heuser van Emoya Big Cat Sanctuary het Vrydag op hul amptelike Facebook-blad gesê die leeuskuiling sal vir besoekers en vrywilligers gesluit wees totdat die ondersoek na die voorval afgehandel is.

Die twee leeus se karkasse is sonder die koppe, pote en velle gevind. (Die foto is digitaal gemanipuleer weens die grusame aard daarvan). Foto: SAPD

“Ons vra met respek vir jul geduld en sensitiwiteit in hierdie tyd terwyl ons herstel en meer te wete kom oor hierdie traumatiese aanval by die diere se toevlugsoord. Ons het 24-uur-sekuriteit en gewapende patrollies en het onmiddellik bykomende maatreëls ingestel om ons groot katte en die skuiling te beskerm,” lui die inskrywing. “Die ondersoek is in ʼn kritieke stadium en ons is nie in staat om nou meer inligting oor die voorval te deel nie. Ons sal dit doen sodra ons kan.”

Hulle het die publiek bedank vir hul ondersteuning ná die stropingsvoorval. “Ons harte is gebroke, maar hierdie moordenaars sal nooit ons gees breek of die gees van vryheid waarvoor ADI so hard geveg het nie. Ons gaan saamstaan, sterker as ooit, en seker maak dat die skuldiges wat ons geliefde twee seuns, José en Liso, vermoor het, aan die pen ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Magda c ·

Ag NEE ! dis nou baie hartseer en ontstellende nuus,, bid die gewetelose moordenaars word gou gevang en swaar gestraf,,.

Scalla ·

Mag die klomp muti slagters en toordokters deur n ongeneeslike pes getref word. Hoop hul word gekry en gestraf.

Hilton ·

Jy kan nog nooit enige iets red en dan suid-afrika toe bring nie! Hier kraai die duiwel koning, en sy donker bose kinders is hard besig met sy werk in die nag.

M'Lady ·

Ek het hulle hele verhaal gevolg van die begin af tot met hulle aankoms by Emoya. Al die ontberings wat hulle moes deurmaak en om nou so wreed vermoor te word in die godverlate land. Sterkte aan Emoya. Rus in vrede Jose en Liso. Daar waar julle nou is is julle verlos van alle pyn en mishandeling.

Lourens Kritzinger ·

Vang hulle,stropers, en doen dieselfde met hulle!!!!

CHRISTA ·

Lourens ek sê vang hulle, VOER hulle vir die leeus wat nog daar is, neem dit op en plaas dit op die internet sodat toekomstige wilddiewe ten minste 10 maal sal dink VOORDAT hulle weer so iets beplan!!!

Scalla ·

Christa, fauna en flora gaan hul opskroef as jy hulle vir die leeus voer, mens voer nie enige gemors vir n leeu nie.

John ·

Barbarisme is die paradigma waarin ons, ons nou bevind. Is jou deure gesluit? Waar is jou kinders? Seker?

E.K. ·

Die spul Chinese glo mos weer aan kammige goeie hoedanighede in “leeuwyn”. So ja, stropery sal net vererger tot daar net so min soos renosters oor is. Watch this space…

Helene ·

Rus in Vrede Jose en Liso. Godverlate land!! Wreedheid skrein ten hemele, nie net in SA nie, maar wêreldwyd!!

Gideon ·

SA kan nie eens na hulle inwoners omsien nie, wat nog te sê diere!! Ek wens so my voorouers het nooit na hierdie barbaarse land gekom nie!!

Crista Du Plessis ·

Mens kan amper met 100%sekerheid se dat een of ander Sjinese sindikaat agter die misdaad sit, elke vel, haar of horing is mos medisyne, en moordenaars is baie goedkoop en in oorvloed in ons land

Johan Fourie ·

Word na Suid Afrika gebring net om wreed doodgemaak te word,

Mercia Prinsloo ·

Het die besondere voorreg gehad om Emoyo te besoek…aan Minuenette en haar dogter..sterkte met die verlies van twee van julle kinders.Julle doen ongelooflike werk, bid ook vir julle beskerming in hierdie barbaarse land van ons

yolandi ·

Niks erger ontstellends as dieremishandeling nie, hoop sommer die moordenaars beland in die kake van hul prooi….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.