Twee mans van Limpopo is elk 24 jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige handeldryf in plofstof.
Trevor Vhonani Mathava (35) en William Kwebityala Majwede (40) is Maandag in die landdroshof op Burgersfort gevonnis, sê kapt. Matimba Maluleke, Valke-woordvoerder.
Die Valke het reeds in Februarie 2014 inligting ontvang oor mense wat plofstof verkoop in die omgewing van Burgersfort, waar platinum volop is, sê Maluleke.
Dié twee is op 27 Februarie daardie jaar in hegtenis geneem nadat lede van die Valke op hulle toegeslaan het. Tydens die optrede is op talle plofstofkomponente beslag gelê.
“Die plofstof was bestem vir bendes misdadigers wat kitsbanke en kontantwaens opblaas,” sê Maluleke.
Tydens hul meer as vier jaar lange verhoor was die twee verdagtes uit op R5 000 borgtog elk.
Die bestuur van die Valke het die vonnisse verwelkom en gesê hulle hoop ʼn sterk boodskap word aan misdadigers oorgedra dat diegene wat hulle skuldig maak aan die onwettige handel in plofstof, vir ʼn baie lang tyd tronk toe gestuur sal word.
goeie straf sou ek se. As dit net daarby gehou word