Twee sit lank vir moord en roof

Argieffoto

Twee mans is Sondag in die Sasolburg-hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord en roof.

Michael Bheki Mthethwa (29) en Lefu Johannes Motloung (41) is skuldig bevind aan die moord op Mbuyiseni Phajane Mnguni (toe 42).

Mnguni, in daardie stadium ʼn werknemer van Sasol, is op 23 Oktober 2014 as vermis aangemeld. Sy liggaam is 31 Oktober 2014 in ʼn rivier in Oranjeville opgespoor. ʼn Nadoodse ondersoek het daarop gedui dat hy verdrink het.

Volgens Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, kon die polisie onder leiding van ao. Louis Hendricks daarin slaag om die verdagtes vas te trek deur Mnguni se gesteelde motor na te spoor.

Dié motor, ʼn Volkswagen Polo, het die polisie uiteindelik gelei na Mthethwa en Motloung en hulle is in 2016 in hegtenis geneem. Die twee mans het die motor glo vir R3 500 verkoop. Hulle het ook skuld beken op die moord.

Jones Qhobosheane, adjunk- provinsiale polisiekommissaris, het die lewenslange vonnisse verwelkom. “Hendricks het daarin geslaag om die familie se hoop te herstel deur nie die saak gewonne te gee nie. Hierdie saak sal ook verseker dat die polisie die gemeenskap se vertroue terugwen,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lollie ·

Dit is ń goeie storie met ń gelukkige einde. Pragtig om te sien dat hulle na so lang tyd vasgetrek en gestraf word. Puik werk! Wat net vir my onverstaanbaar is is die feit dat hulle lewenslank kry vir moord op een van hulle eie mense maar as daar blanke boere vermoor word loop hy gou-gou weer vrylik rond!!! Hoe werk hulle die straf uit? Vir my is ń lewe ń lewe! Gee almal wat skuldig is aan moord dieselfde straf!

Frederik ·

Dankbaar om te lees dat die howe nou op Sondae ook sit. Dit sal hopelik die aantal verhoorafwagtende gevangenes verminder, met die reeds oorvol tronke in gedagte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.