Twee sit lewenslank ná moord op polisiebeampte

Argieffoto: SAPD

Twee mans is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord op ʼn polisiebeampte.

Surprise Mokoebo (27) en Thabang Maleka (26) is tot ʼn bykomende 47 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op hul makker, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Konst. Samuel Hlongwane, wat aan die taktiese reaksie-eenheid in Brits in Noordwes verbonde was, is in Junie 2017 vermoor.

Volgens lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het Hlongwane die betrokke dag in Letlhabile gestap toe ʼn vriend van hom met sy BMW stilgehou het om te gesels. Twee mans het skielik te voorskyn gekom en vuurwapens op hulle gerig. Hlongwane is geskiet, maar kon daarin slaag om ook een van die aanvallers te skiet.

Die ander verdagte het in Hlongwane se vriend se BMW gevlug terwyl ʼn derde verdagte met ʼn wegkommotor opgedaag en sy gewonde makker by die Letlhabile-kliniek gaan aflaai het.

“Taxibestuurders en lede van die gemeenskap het die verdagte se motor tot by die kliniek agtervolg waar hulle die gewonde verdagte aangerand het en hy later aan sy beserings beswyk het.”

Die BMW en wegkommotor is op 3 Junie 2017 in Soshanguve, noord van Pretoria, gevind. Die verdagtes is ʼn paar maande later in hegtenis geneem.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom. Hy het gesê Mokoebo en Maleka moet permanent uit die samelewing verwyder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.