Twee skuldig vir moord op KZN-boer

Foto: Verskaf.

Twee mans is Donderdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg skuldig bevind aan die moord op Daniel Swanepoel (57), ʼn boer wat vroeër vandeesmaand op ʼn plaas in die Vryheid-omgewing in KwaZulu-Natal vermoor is.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Sibusiso Mbatha (23) en Ayanda Mncube (21) is skuldig bevind op aanklagte van moord, ontvoering en roof met verswarende omstandighede. “Hulle het skuld erken op al die aanklagte teen hulle,” het Zwane gesê.

Mbatha en Mncube sal in Januarie 2018 gevonnis word.

Maroela Media het vroeër berig Swanepoel is op 4 November omstreeks 05:30 deur twee aanvallers op die plaas Eensgevonden oorval. Die aanvallers het geld en kredietkaarte van Swanepoel geëis. “Hy het volgehou hy het niks by hom nie en hulle het hom herhaaldelik met ʼn skerp voorwerp gesteek,” het Zwane gesê.

Swanepoel het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Die verdagtes het daarna Swanepoel se vrou ingewag toe sy omstreeks 15:00 by die plaas aangekom het. Hulle het haar oorval en in ʼn motor ingedwing. “Hulle het met haar na ʼn kitsbank gery waar sy gedwing is om vir hulle geld te trek,” het Zwane gesê.

Hy het gesê die verdagtes het tot laat die aand met haar rondgery totdat sy daarin kon slaag om ʼn motoris in die omgewing se aandag te trek. Die plaaslike buurtwag is ontbied en het gehelp om een van die beskuldigdes vas te trek, terwyl die tweede beskuldigde aanvanklik daarin kon slaag om te ontsnap.

“Die tweede verdagte is die volgende dag deur die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad vasgetrek. Albei is van al drie aanklagte aangekla.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het vroeër aan Maroela Media gesê Swanepoel is ure lank gemartel. “Toe sy vrou ongeveer ses uur later op die plaas aankom waar hulle haar ingewag het, het sy nog nie geweet haar man is dood nie,” het hy gesê.

Die vonnisverrigtinge is van 20 tot 24 Januarie op die hofrol geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Cor ·

Dit is goed hulle is skuldig bevind, maar sal hulle nog in die tronkwees en beskikbaar wees vir vonnis op 21 tot24 Januarie 2018.Miskienis hulle teen daai tyd weer uit deur een of ander hulp. Hoekom so lank wag om te vonnis hoekom nie dadelik nie.

JdV ·

Dit is ongelooflik dat ‘n ondersoek en hofuitspraak binne minder as twee weke na ‘n moord afgehandel is!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.