Twee soldate sterf in afsonderlike ongelukke

'n Foto van die voertuig wat in die die noorde van Pretoria gebots het. Foto: Verskaf

‘n Foto van die voertuig wat in die die noorde van Pretoria gebots het. Foto: Verskaf

Twee lede van die Suid-Afrikaanse Leër is Woensdag in twee afsonderlike motorongelukke in Gauteng dood.

ʼn Beampte van die Wonderboom-weermagbasis is dood en sy kollega beseer nadat hul voertuig in die vroeë oggendure in die noorde van Pretoria ʼn boom getref het. Dana Wannenburg, ʼn DA-raadslid van die omgewing, het aan Maroela Media gesê daar word vermoed dat hoë spoed tot die ongeluk gelei het.

“Die ongeluk het omstreeks 04:00 op die hoek van Grafenheim- en Rachel de Beerstraat plaasgevind,” het Wannenburg gesê. Die passasier, ʼn Pretorianer, is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder, ʼn man van George in die Wes-Kaap, was nog by sy bewussyn toe die metropolisie en nooddienswerkers by die toneel opgedaag het. Hy het aan die polisie gesê hulle is weermaglede. Hy is vermoedelik na die 1 Militêre Hospitaal geneem vir verdere behandeling.

“Die twee mans het nie in ʼn amptelike militêre voertuig gery nie en ook nie uniforms aangehad nie,” het Wannenburg gesê.

ʼn Tweede lid van die weermag is in ʼn ongeluk op die R550-pad buite Heidelberg oorlede. Kapt. Thivhulawi Tshilate, ʼn woordvoerder van die Heidelberg-polisie, het gesê die lid was op pad om sy bevelvoerder te gaan oplaai toe hy beheer oor die voertuig verloor, en dit verskeie kere gerol het. Die beampte was ʼn lid van die Doornkop-weermagbasis, suid van Johannesburg. Hy is op die toneel dood verklaar. Hy het in ʼn amptelike weermagvoertuig gery.

Die name van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie.

Die klankinsetsel oor die Pretoria-botsing is deur GROOTfm 90.5 vervaardig. Luister na GROOTfm by 90.5fm. Die radiostasie bedien die groter Pretoria metropool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.