Twee steel geld by kinderhospitaal

Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad (Foto: http://childrenshospitaltrust.org.za/)

Twee mans van Kaapstad is tien jaar tronkstraf en ʼn bykomende drie jaar korrektiewe toesig opgelê nadat hulle die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad uit derduisende rande geswendel het.

“Die ernstige handelsmisdaadhof in Bellville het Ronald Rothman Rancke en Johann Willem Visser skuldig bevind aan 24 klagtes van bedrog en korrupsie wat die hospitaal eindelik R86 000 uit die sak gejaag het. Die hof het ook ʼn beslagleggingsbevel van R50 000 bekragtig, wat Visser reeds in die kriminelebateherwinningsrekening (Cara) oorbetaal het,” het Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, gesê.

Rancke is ʼn voormalige werknemer in die hospitaal se verkrygingsdepartement en Visser was ʼn diensverskaffer aan die hospitaal. Visser het die geld tussen 2005 en 2009 gesteel deur Rancke om te praat om onregmatig aan sy maatskappy ʼn tender toe te ken.

Hulle is onderskeidelik in Oktober en November 2021 in hegtenis geneem na aanleiding van ʼn ondersoek wat deur die hospitaal se forensiese afdeling afgeskop is.

Die twee is Donderdag gevonnis en die tronkstraf is vir vyf jaar opgeskort, mits hulle nie aan soortgelyke oortredings skuldig bevind word nie.

Die Rooikruis-kinderhospitaal in Rondebosch is een van net twee kinderhospitale in die suide van Afrika en bied dikwels deur middel van die Rooikruis-kinderhospitaal se trust gratis behandeling aan kinders wat dit nie kan bekostig nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

10jr tronkstraf vir diefstal van R86k. Dan gaan moordenaars, verkragters en kapers op parool na 7 jr? daar moet meer wette ingestel word om die regstelsel en sy regters/landroste te reguleer.

Daleen ·

Ag asseblief klein vissies in vergelyking met die R850 miljoen bedrog by Thembisa hospitaal. Vang en vonnis die skuldiges betrokke by Thembisa dan kan julle daaroor spog anders SHATUP OU HOED EN GESPUIS!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.