Twee sterf, 5 beseer in KZN-ongelukke

Die ongelukstoneel op die M1 naby die Klaarwaterweg-afrit in Chatsworth. Foto: Rescue Care

Twee mans is dood en vyf ander mense beseer in twee verskillende padongelukke Saterdag in KwaZulu-Natal.

Garrith Jamieson, bedryfsdirekteur van Rescue Care-nooddienste, het gesê paramedici is net ná 16:00 na ʼn ongelukstoneel op die M1 naby die Klaarwaterweg-afrit in Chatsworth ontbied.

ʼn Vragmotor en ʼn sportnutsvoertuig het reg van voor gebots, voordat ʼn derde voertuig in die ander twee voertuie vasgery het. “Twee insittendes van die sportnutsvoertuig het ernstige beserings opgedoen en was in die wrak vasgekeer. Paramedici het die mans gestabiliseer, terwyl brandweerbeamptes meganiese toerusting gebruik het om hulle uit die wrak te sny,” het Jamieson gesê.

Die twee mans is na ʼn hospitaal gehaas.

Die ongelukstoneel op die N3 naby die Richmondweg-afrit in Pinetown. Foto: Rescue Care

Om 20:15 is Rescue Care-paramedici na ʼn ongelukstoneel op die N3 naby die Richmondweg-afrit in Pinetown ontbied.

“ʼn Voertuig het agter in ʼn vragmotor vasgery en ʼn derde voertuig was ook by die botsing betrokke. Drie mense was in die wrak van die eerste voertuig vasgekeer. Die twee passasiers agter in die voertuig het reeds aan hul beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar,” het Jamieson gesê.

Die bestuurder van die voertuig was in ʼn kritieke toestand en moes op ʼn asemhalingsmasjien geplaas word, terwyl brandweerbeamptes hom uit die wrak gesny het. Hy is saam met nog ʼn insittende in die voertuig en die bestuurder van die derde motor na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Albei ongelukke word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

willie ·

al hierdie ongelukke kon vermy gewees het indien die mense nie so onverantwoordelik bestuur nie! nou wonder ek is daar werklik nog genoeg opgeleide personeel om al hierdie ongelukke te ondersoek?

Stem saam ·

Stem saam willie. Mense word losgelaat op ons paaie met ‘n K53 wat bokkerol werd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.