Twee sterf, drie beseer in ongeluk buite Fochville

Vyf mense is in die ongeluk in Mondeor, Johannesburg, beseer. (Foto: ER24)

Twee mense is dood in ʼn kop-teen-kop-botsing tussen twee motors op die N12 by Fochville Saterdagaand.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê nooddienswerkers was kort voor 23:00 op die toneel.

ʼn Man is in een van die voertuigwrakke vasgekeer en op die toneel dood verklaar. Nog ʼn man is aanvanklik op die toneel behandel en daarna na ʼn hospitaal geneem, waar hy ook aan sy beserings beswyk het, het Campbell gesê.

ʼn Sesjarige kind, ʼn 16-jarige seun en ʼn jong man is ook in die voorval beseer. Hulle is na die Carletonville-hospitaal vir verdere behandeling geneem.

In ʼn afsonderlike voorval is vyf jong mense ook ernstig beseer toe hulle Saterdagaand teen ʼn boom in Columbinelaan in Mondeor, Johannesburg, vasgery het.

Campbell sê twee vroue en drie mans, almal tussen 19 en 25 jaar oud, was in die voertuig.

Die vrou wat die motor bestuur het, was vasgekeer ná die ongeluk en moes uit die wrak gered word. Sy het ernstige beserings opgedoen.

Wetstoepassingsbeamptes was op die toneel om die voorval verder te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

Die drankwinkels is weer oop. Ek wonder of daar iewers ‘n verband is…

Hennie ·

Drank, spoed, en daai bome in Columbine straat Mondeor het al menige lewe geneem…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.