Twee sterf, een kritiek ná voorvalle by strande

ʼn Polisiehelikopter staan gereed om met die soektog te help nadat ʼn man in die see by St. Francisbaai in die Oos-Kaap vermis geraak het. Foto: NSRI

Twee mense is dood en ʼn 70-jarige vrou in ʼn kritieke toestand nadat hulle Donderdag in die water by verskillende strande in onderskeidelik die Wes- en Oos-Kaap in die moeilikheid geraak het.

In een van die voorvalle is die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se bemanning Donderdag omstreeks 12:30 na ʼn strand by St. Francisbaai in die Oos-Kaap ontbied nadat ʼn groep mense in die water in die moeilikheid geraak het.

Volgens ʼn verklaring deur die NSRI het die voorval by ʼn strand gebeur wat nie deur lewensredders beman word nie. Die groep het glo in die see geswem toe hulle deur seestrome dieper in die see in meegesleur is. ʼn NSRI-reddingsboot is die water in gestuur, terwyl NSRI-reddingswemmers, munisipale en vrywillige lewensredders en twee plaaslike branderplankryers ook die mense te hulp gesnel het.

Die reddingspan kon daaraan slaag om nege mense uit die water uit te bring en paramedici het hulle onmiddellik ondersoek en behandel. Dit het toe aan die lig gekom dat ʼn 28-jarige man wat ook in die water was nog nie uit die water gebring is nie.

Die NSRI se seereddingsboot, ʼn private ligte vliegtuig, ʼn polisiehelikopter, ʼn reddingspan en die polisie se duikeenheid is almal ontplooi om na die man te soek, maar ten spyte van ʼn uitgebreide soektog was daar geen teken van die man nie. Die soektog na die man duur voort.

Intussen het daar Donderdag nog twee soortgelyke voorvalle op strande by Kommetjie naby Kaapstad in die Wes-Kaap plaasgevind. Volgens die NSRI is hul Kommetjie-bemanning omstreeks 10h55 na Long Beach ontbied nadat ʼn 70-jarige vrou gevind is waar sy met haar gesig na onder in die water by die riviermond dryf.

Die vrou is glo deur ʼn groot golf getref terwyl sy in die water was en is in ʼn bewustelose toestand deur ʼn omstander uit die water gebring. Volgens die NSRI was die vrou in ʼn kritieke toestand en word daar vermoed dat sy haar nek beseer het. Sy is op die toneel deur paramedici behandel voordat sy na ʼn hospitaal gehaas is.

Later die dag, omstreeks 16h20, is die NSRI weer ontbied – hierdie keer na die Noordhoek-strand in Kommetjie waar ʼn man, vermoedelik 24 jaar oud, deur seestrome dieper in die see in meegesleur is terwyl hy besig was om te swem. Nadat hy onder die water verdwyn het, het sy vriende vinnig hulp ontbied.

Die NSRI se reddingspan het onmiddellik na die man begin soek en ná ʼn ruk is hy gevind waar hy ongeveer 100 m van die strand af in die water dryf. Die man is deur reddingswemmers uit die water gebring waar paramedici hom dood verklaar het. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê Eish

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Ivorine du Plessis ·

Die 70 jarige dame by Kommetjie is deur my dogter Karen Davids uit die water getrek terwyl haar man die nood dienste gebel het. Dit was net’geluk dat sy met haar honed daardie tyd op die strand was. Mense moet nooit alleen in die water of eers naby die water stap nie.

Mari Krige ·

Dink julle nie ‘in die moeilik beland het” klink beter?

willehond ·

Moes die punt nie n halwe millimeter na die regterkant toe gestaan het nie? Asseblief, lees die nuus en vergeet maar die ou klein jakkalsies mense, of het ons net onderwysers en ander baie slim mense wat dit lees!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.