Twee sterf in Bloem-ongeluk, kind oorleef

Nooddienswerkers op die toneel. Foto: Trauma Response Africa

Nooddienswerkers op die toneel. Foto: Trauma Response Africa

Twee mans is dood en ʼn kind beseer toe die motor waarin hulle gery het Woensdagaand in ʼn stormwaterkanaal in Bloemfontein beland het.

Volgens Trauma Response Africa het die motor in Rudolf Greylingweg in Oos-Einde gery toe dit die pad verlaat, verskeie kere gerol en in die kanaal langs die pad tot stilstand gekom het. Die mans is tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê verskeie nooddienste het omstreeks 21:30 op die ongeluk reageer.

“Met paramedici se aankoms is die motor gedeeltelik in die water in die kanaal aangetref,” het Vermaak gesê. Een man se liggaam is op die kant van die wal gevind. Hy is op die toneel dood verklaar.

“Daar was ook ʼn kind met matige beserings op die toneel. Dit is nie duidelik of die kind ook uit die voertuig geslinger is en of omstanders hom uit die motor gehaal het nie. Hy is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.”

Die ander man is in ʼn kritieke toestand in die water in die kanaal aangetref. Hy het erge borsbeserings opgedoen. Hy moes met behulp van die brandweer en nooddienste sowat vyf meter na die padoppervlak gehys word.

“Terwyl die poging aan die gang was, het die man se toestand skielik versleg en sy hart het gaan staan. Paramedici het nagenoeg ʼn uur lank probeer om hom by te bring, maar kon nie daarin slaag nie.”

Hy is ook op die toneel dood verklaar.

Die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lydia ·

Dis verskriklik en skokkend hoeveel mense deesdae op die paaie doodgaan. Sterkte aan die familie en die seuntjie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.