Twee sterf in brand in verlate gebou

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Twee mans is dood en nog twee in ʼn ernstige toestand nadat ʼn brand die naweek by ʼn ou verlate gebou in die nywerheidsgebied van Potchefstroom ontstaan het. Paramedici wat op die voorval gereageer het, vermoed hulle is aan die brand gesteekdie polisie in Noordwes kon nog nie dié vermoede bevestig nie.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is Sondag omstreeks 05:00 na die Ikageng-polisiestasie ontbied nadat ’n man met ernstige brandwonde na die polisiestasie gebring is. Die man het brandwonde oor die grootste gedeelte van sy lyf opgedoen.

Die man is by die polisiestasie behandel voordat hy na ʼn hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Paramedici is teen 07:00 weer ontbied. Dié keer na die verlate gebou waar hulle by hul aankoms ʼn man ʼn ent van die gebou aangetref het. Die man het ook ernstige brandwonde gehad. Dié man is op die toneel behandel voordat hy hospitaal toe geneem is.

Plaaslike veiligheidsbeamptes het later die gebou deursoek en op twee liggame met brandwonde afgekom. Albei het in dié stadium reeds aan hul brandwonde beswyk.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die liggame is in ’n klein vertrek in die verlate gebou gevind. Die mans het vermoedelik daar gewoon.

“Die identiteit van die mans is in dié stadium nie bekend nie en die oorsaak van die brand word ondersoek,” sê Botma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.