Twee sterf in brandende hutte ná wraakaanval

brand vuur vlam

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Vyf mans sal Dinsdag in die Hluhluwe-landdroshof in KwaZulu-Natal op aanklagte van moord verskyn, nadat hulle glo drie hutte met mense daarin, aan die brand gesteek het.

Lt. kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Saterdag kort voor middernag in die Mdletshe-nedersetting gebeur. Vyf verdagtes het inwoners van die nedersetting met ʼn mes aangeval en drie hutte aan die brand gesteek.

Volgens Zwane is Nyanyekile Gumede (61) en Sifiso Nkosi, ouderdomonbekend, in die brandende hutte dood. Die polisie kon nie onmiddellik bevestig of die oorledenes doodgebrand het en of hulle reeds dood was toe die hutte aan die brand gesteek is nie. Drie ander slagoffers kon daarin slaag om betyds uit die brandende hutte te kom, maar het ernstige brandwonde opgedoen.

“Die polisie het dwarsdeur die nag gewerk en vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 22 en 32 jaar, is Sondagoggend in hegtenis geneem. Twee van hulle is op die N2 vasgetrek terwyl hulle op pad was na Durban,” het Zwane gesê. “Al vyf verdagtes sal tereg staan op twee aanklagte van moord, drie aanklagte van poging tot moord en brandstigting.”

Zwane het gesê die voorval is vermoedelik die gevolg van ʼn vete tussen twee families. ʼn Man is glo ʼn paar jaar gelede in die gebied met ʼn mes aangeval en die afgelope naweek se gebeure is vermoedelik uit wraak vir die mesaanval gepleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.