Twee sterf in gyseldrama op plaas

(Argieffoto)

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) stel ondersoek in nadat ʼn polisielid ʼn man op ʼn plaas naby Gonubie in die Oos-Kaap doodgeskiet het.

Kapt. Hazel Mqala, polisiewoordvoerder, het gesê die 45-jarige plaaseienaar en ʼn vriend, wat saam met sy vrou en twee kinders tydelik op die plaas Geluksdal woon, het Saterdag in die vroeë oggendure na bewering in ʼn stryery betrokke geraak.

“Die plaaseienaar het sy 40-jarige vriend met die vuiste en ʼn geweerloop bygekom en die man het ernstige hoofbeserings opgedoen,” het Mqala gesê.

“Met die polisie se aankoms het hulle hom op sy rug, met verskeie kopwonde, aangetref. Hy was reeds dood.”

Mqala het gesê die plaaseienaar het verskeie noodoproepe na omliggende boere gemaak, wat op hul beurt die Bluewater- en Gonubie-polisiestasies in kennis gestel het.

AO. Hendrick Fielies Odendaal, verbonde aan die Bluewater-polisiestasie, was eerste op die toneel, waar die plaaseienaar glo aan hom gesê het dat “niemand die plaas vandag verlaat nie”.

In dié stadium het die man reeds sy vriend se kinders gyselaar geneem en hulle in ʼn badkamer toegesluit, het Mqala gesê.

“Hy het hulle ma gevra om terug in die huis te gaan. Sy het uit vrees vir haar lewe buite geskuil.”

Nog ʼn polisielid, konst. Phillip Bam, het ook op die plaas aangekom en het die seuntjies, onderskeidelik twee weke en twee jaar oud, uit die badkamer bevry en met hulle ma herenig het.

Odendaal het intussen met die plaaseienaar gepraat. Dié het die polisielid na bewering van agter toegetakel en probeer ontwapen. “Tydens die struweling is ʼn skoot afgevuur wat die grond getref het. AO. Odendaal het die man probeer wegkry, maar hy het hom weer aangeval,” het Mqala gesê.

Volgens haar het die plaaseienaar Odendaal ten spyte van herhaalde waarskuwings wéér probeer aanval. Odendaal het ʼn skoot gevuur wat die man onder sy arm getref het. Die plaaseienaar is op die toneel dood.

Odendaal het onder meer ʼn gekraakte neus en kakebeen in die struweling opgedoen.

“Vuurwapens en ʼn groot aantal ammunisie, asook ʼn polisievlag, is op die toneel gevind,” het Mqala gesê.

Sontaga Seisa, Opod-woordvoerder, het gesê die eenheid ondersoek die omstandighede van die plaaseienaar se dood.

Brig. Mxolisi Mqotyana, bevelvoerder van die Oos-Londen-polisiestasie, het intussen die polisielede geloof vir hul dapperheid en dat hulle drie onskuldige lewens tydens die gyselaarsdrama gered het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries Moolman ·

Genade! Heel ander prentjie wat gister op twitter geskilder is oor hierdie voorval, maar uit hierdie berig is dit duidelik dat daar nog baie uit te vinde is, so ek weet nie hoe die tweeters gaan voel as hulle aannames verkeerd bewys word nie, want dan is hulle ‘narrative’ skielik vals.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.