Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het Vrydagaand by die R31 en N12-kruising plaasgevind.
Vermaak sê die vragmotor het teen die passasierskant van die motor gebots. Een van die motor se insittendes is op slag dood terwyl twee mense kritiek beseer is.
Volgens Vermaak was die beseerdes in die wrak vasgekeer. Nadat hulle uit die wrak bevry is, is hulle deur paramedici op die toneel behandel en na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.
Vermaak sê een van die beseerdes is by die hospitaal dood verklaar. Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.