Twee sterf in ‘lukrake skietery’ tydens taxi-geweld

Foto: ANA

Foto: ANA

Twee mense is Donderdagoggend doodgeskiet toe taxi-geweld na die Kaapse Vlakte naby Muizenberg oorgespoel het.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid van veiligheid en sekuriteit, het gesê twee insittendes van ʼn taxi is omstreeks 5:50 op die hoek van St. Patricksweg en St. Stephenslaan in Seawinds doodgeskiet. “Die rede is nie in dié stadium bekend nie,” het Smith gesê.

Robert Daniels, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die voorval bevestig en gesê die twee mans is tydens ʼn voorval van taxi-geweld en “lukrake skietery” doodgeskiet. Hy het gesê ʼn ambulans van die provinsiale nooddienste het in die middel van die skietery beland en moes deur die polisie uit die gebied begelei word.

Volgens Smith drom ongeveer 500 mense in die gebied saam wat almal deelneem aan die gewelddadige gevegte. Hy het bevestig dat die polisie, verkeersbeamptes en nooddienste op die toneel is.

Smith het gesê die geweld het Woensdag uitgebreek toe taxi-eienaars geëis het dat hul voertuie wat deur Stad Kaapstad geskut is, vrygestel word. ʼn Gebou in Burgstraat is met ʼn petrolbom gegooi, maar geen beserings is aangemeld nie.

Donderdagoggend teen 07:00 is 25 mense in hegtenis geneem. Hulle word op aanklag van intimidasie by die Steenberg-polisiestasie aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.