Twee sterf in ongelukke in Waterberg-distrik

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Lucian Alexe / Unsplash)

Twee mense is Donderdagaand kort voor middernag in afsonderlike ongelukke in die Waterberg-distrik in Limpopo dood.

Nóg ses mense is in dié ongelukke beseer.

Luidens ʼn verklaring deur die provinsiale departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid het die eerste ongeluk op die N1 naby Roodekuil plaasgevind.

Die bestuurder van ʼn BMW-sedan het glo weens ʼn probleem met die voertuig se band beheer oor die motor verloor en die voertuig het omgeslaan. ʼn 18-jarige meisie is op die toneel dood verklaar, terwyl twee ander passasiers ernstige beserings opgedoen het. Die bestuurder van die BMW is lig beseer.

Die tweede ongeluk is op die R510 naby Northam aangemeld. Die bestuurder (37) van ʼn Volkswagen Polo is dood toe dié voertuig teen die kant van ʼn Hyundai-sedan gebots het.

Albei voertuie het omgeslaan. Twee passasiers is ernstig en ʼn ander passasier slegs lig beseer.

Volgens die departement word die ongeluk aan roekelose bestuur toegeskryf. Die presiese omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, is egter nie duidelik nie.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR vir vervoer, het ʼn beroep op motoriste gedoen om verkeersreëls te gehoorsaam.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.