Twee sterf in skietery by kuierplek

polisie kaping

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Twee mense, ʼn man en ʼn vrou, is Vrydagaand in ʼn voorval by ʼn kuierplek in Stellenbosch doodgeskiet.

Volgens ʼn ooggetuie het die voorval glo by Cubana plaasgevind en het twee gewapende mans ingestap en lukraak op die klante geskiet.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het die skietery bevestig en by navraag aan Maroela Media gesê die voorval het by ʼn kuierplek in Pleinstraat plaasgevind.

“ʼn 30-jarige vrou en ʼn 40-jarige man is tydens die voorval noodlottig gewond en ʼn ander vrou is geskiet en gewond.”

Hy het gesê die vrou wat gewond is, is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die polisie ondersoek twee sake van moord en ʼn saak van poging tot moord.

Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan om Crime Stop by 08600 10111 te bel.

Dit is nie dadelik bekend of die skietery verband hou met bendegeweld of met onlangse skietvoorvalle by nagklubs in Kaapstad nie.

Brig. Neil Oliver, provinsiale hoof van die Valke, het verlede week gesê die Valke neem met kommer kennis van onderduimse aktiwiteite in die nagklubbedryf en die eenheid hou die situasie fyn dop.

Dit volg nadat die Valke ondersoeke oorgeneem het ná ʼn skietvoorval by Coco Nightclub in Kaapstad se middestad in Mei vanjaar en Café Caprice in Kampsbaai in April vanjaar.

“Die Valke se georganiseerdemisdaadeenheid het die sake oorgeneem nadat dit duidelik geword het dat die voorval verbind word met ʼn beweerde bakleiery in die nagklubbedryf in die Wes-Kaap,” het kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, verlede week gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

Verstaan ek reg: hulle kom in, skiet skote links en regs en verdwyn dan weer, sonder om iets waardevols te steel? Wat is dan die motief? Is dit sommer net lekker om te skiet?

Francois Joubert ·

Bendes. Blykbaar die man gejaag tot by die badkamers en daar geskiet.

Darius Els ·

n Ma van kinders,in die 30’s na middernag in n klub?
Ook n vraagteken,sy tuis was het die dame geleef!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.