Twee sterf in skietery by sakeperseel

Argieffoto: SAPD, Facebook

ʼn Vermeende gewapende rower is Woensdagaand noodlottig gewond tydens ʼn skietery by ʼn sakeperseel in Durban-Sentraal.

Die verdagte en sy makkers het glo ʼn persoon in ʼn sakeonderneming in Adrainweg naby die Moses Mabhida-stadion omstreeks 18:00 van kontant en ʼn beursie beroof, sê kol. Thembeka Mbele, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder.

Terwyl die verdagte op die vlug geslaan het, het nog ʼn werknemer, blykbaar ʼn veiligheidswag, hom gekonfronteer. Die verdagte het skote op die werknemer afgevuur, wat teruggeskiet en die vermeende rower noodlottig gewond het, sê Mbele.

ʼn Ongelisensieerde vuurwapen met drie patrone is langs die oorledene gekry.

Die werknemer het tydens die oor-en-weer-skietery skietwonde opgedoen, sê Mbele. “Later het dit aan die lig gekom dat ʼn dwaalkoeël ʼn passasier in ʼn stilstaande taxi in die kop getref het. Dié persoon is op slag dood.”

Die gesteelde kontant en beursie is teruggekry, maar die ander rowers het hulle in ʼn onbekende rigting uit die voete gemaak.

Mbele sê Durban-Sentraal se polisie ondersoek sake van sakeroof, moord, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Nooit sien ek Anc president klim op TV en praat met ons volk oor misdaad en die wreedheid daarvan nie. Watse pa is jy van ons land. Of kry jy lekker dat ‘n onskuldige persoon in taxi in die kop geskiet is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.