Twee sterf in skietery op polisie

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee mans in ʼn voertuig wat kort tevore by die Durbanse lughawe gesteel is, is doodgeskiet toe hulle en nog ʼn vermeende makker op die polisie losgebrand het.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van die Durban-Sentraal-honde-eenheid het inligting opgevolg oor die voertuig wat gesteel is en in daardie stadium op die N2-hoofweg was.

Die voertuig was in die rigting van die Bellair-polisiewyk op pad.

“Die polisiebeamptes het die betrokke voertuig afgesny, maar is met ʼn koeëlreën begroet. Tydens die skietery is twee verdagtes, vermoedelik in hul 30’s, doodgeskiet,” het Mbele gesê.

ʼn Onwettige vuurwapen en ammunisie is by een van die verdagtes wat geskiet is gekry.

“Die derde verdagte het weggekom en is steeds op vrye voet. Die gesteelde voertuig is teruggevind.”

Mbele het gesê aanklagte van poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die besit van ʼn gesteelde voertuig word deur die Bellair-polisie ondersoek. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiehoof, het gesê hy is verlig dat die polisiebeamptes ongedeerd is ná die skietery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Susan ·

Welgedaan, hoop die polisie se optrede kan voortdurend van so aard wees, dan sal daar darem ‘n duik in die misdaad in ons land geslaan kan word. Dankbaar die polisiemanne is ongedeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.