Twee sterf in tref-en-trap-ongelukke

Die ongelukstoneel in Pinetown. Foto: Rescue Care

Twee mense is dood en drie ander beseer in twee tref-en-trap-ongelukke in onderskeidelik Pinetown en Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

In een van die voorvalle is ʼn man dood nadat sy voertuig in Pinetown met ʼn vragmotor gebots en die vragmotor glo van die ongelukstoneel weggery het.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care-paramedici, het gesê die ongeluk het Saterdag op die hoek van die Hans Dettmans-snelweg en Wiltshireweg gebeur.

Paramedici is omstreeks 17:30 na die toneel ontbied waar hulle die wrak van die motor aangetref het. “Die motor en die vragmotor het in die kruising gebots en die vragmotor het die toneel verlaat. Paramedici het gevind die bestuurder van die voertuig het ernstige beserings opgedoen en is reeds voor hul aankoms op die toneel oorlede,” het Jamieson gesê.

Hy het bevestig die polisie ondersoek die ongeluk.

In die tweede voorval het twee voertuie omstreeks 01:00 Sondag op die hoek van Longmarket- en West-strate in Pietermaritzburg gebots.

Volgens Werner Vermaak, kommunikasiebestuurder van ER24, was ʼn man in een van die wrakke van die voertuig vasgekeer. Hy is op die toneel dood verklaar.

“Drie insittendes van die ander voertuig is vir hul beserings behandel voordat hulle na ʼn hospitaal gehaas is. Omstanders het aan die paramedici gesê die bestuurder van die tweede voertuig het die toneel verlaat voordat die nooddienste opgedaag het,” het Vermaak gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

snoefie ·

en soos die toeval dit wil hê het almal gesien die voertuie verlaat die onderskeie ongelukstonele maar niemand het registrasie nommer afgeneem nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.