Twee sterf in Upington-vliegtuigongeluk

Louis-John Botha en  Geogina Joubert. Foto: Facebook.

Louis-John Botha en Geogina Joubert. Foto: Facebook.

ʼn Man en ʼn vrou, wat vermoedelik verloof was, is dood nadat ʼn ligte vliegtuig Dinsdag naby Niekerkshoop, tussen Prieska en Griekwastad in die Noord-Kaap, op ʼn plaas neergestort het.

Lt. Sergio Kock, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag die ongeluk aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê twee mense is dood, maar wou nie die name van die slagoffers bekendmaak nie. Volgens Kock was beamptes van die SA Burgerlike Lugvaartowerheid (SABLO) Woensdag op die toneel om die ongeluk te ondersoek.

Die Facebook-blad, Boere Krisis Aksie, het een van die slagoffers as Louis-John Botha van Swartwater uitgeken en bygevoeg sy verloofde, Geogina Joubert, was saam met hom aan boord.

Botha se ma, Martie Schlebusch, het ‘n foto van die paartjie op Facebook gedeel en skryf: “RIV. Julle was so lief vir mekaar.”

Maroela Media wag nog vir kommentaar van SABLO vir meer inligting oor die ongeluk. Die bestuurder van die Upington-lughawe was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.