Twee sterf; kar brand uit naby ongelukstoneel

Die motor wat op 18 Desember 2015 op die N1 naby die Murrayhill-tolplaza uitgebrand het. Foto: ER24

Die motor wat op 18 Desember 2015 op die N1 naby die Murrayhill-tolplaza uitgebrand het. Foto: ER24

Twee vroue is dood en nog ʼn vrou het kritieke beserings opgedoen tydens ʼn trompop botsing op die N1 naby die Murrayhill-tolplaza.

“Die ongeluk het Vrydagmiddag omstreeks 17:00 plaasgevind,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Volgens omstanders het een van die voertuie glo vir iets uitgeswaai voor dit die ander voertuig reg van voor getref het.”

Twee vroue, vermoedelik in hul laat 30’s, is uit die voertuig geslinger. “Hulle het ʼn paar meter van die wrak af gelê toe paramedici by die toneel opgedaag het. Hulle het noodlottige beserings opgedoen.”

ʼn Vrou in die ander voertuig is ʼn paar meter van die wrak van haar voertuig aangetref. Sy was in ʼn kritieke toestand. “Paramedici het haar op die toneel gestabiliseer voor sy na ʼn hospitaal gehaas is,” het Vermaak bygevoeg.

Terwyl paramedici op die toneel besig was, het verbygaande motoriste hulle ingelig dat ʼn motor ʼn paar kilometer verder aan die brand geslaan het. “Paramedici het na dié toneel beweeg waar die bestuurder hulle meegedeel het dat hy gesien het hoe rook by die enjinkap uitkom en hy het stilgehou.” Brand- en reddingsdiens het die snelweg gesluit terwyl hulle die brand probeer blus het. “Niemand is in dié voorval beseer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.