Twee sterf, kleuter ontkom ternouernood in botsing op N1

Twee mense, ‘n man en ‘n vrou, het in die ongeluk gesterf. ‘n Sesjarige kind is onder die beseerdes. (Foto: SA Polisie)

Twee mense is dood en drie ander, onder wie ʼn sesjarige kind, is beseer in ʼn ernstige ongeluk op die N1 suid van Mokopane in Limpopo.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê die ongeluk het Donderdag omstreeks 10:40 plaasgevind.

Twee voertuie, ʼn Toyota Land Cruiser met ʼn sleepwa en ʼn Toyota Yaris, het in ʼn suidelike rigting gery toe die bestuurder van die Land Cruiser oënskynlik beheer oor die voertuig verloor het. Dit het omgeslaan en die sleepwa het losgekom. Dit het met die Yaris agter die Land Cruiser gebots.

“Daar was ses insittendes in die Land Cruiser: ʼn kleuter en ʼn sesjarige kind, asook vier volwassenes. Die bestuurder en ʼn vrou is op die toneel dood. Die sesjarige kind en twee volwassenes is na ʼn hospitaal geneem,” het Mojapelo gesê.

Die ongeluk het groot verkeersontwrigting veroorsaak en die pad was ‘n ruk lank vir verkeer gesluit. (Foto: SA Polisie)

“Die kleuter is nie beseer nie.”

Die insittendes van die Yaris is ook ongedeerd.

Die voorval het groot verkeersopeenhopings veroorsaak. Alle bane is kort ná die ongeluk vir verkeer gesluit terwyl die wrakstukke uit die pad verwyder en ʼn polisieondersoek op die toneel gedoen is.

Die pad is intussen weer oopgestel.

“Die polisieondersoek sal die oorsaak van die ongeluk bepaal,” het Mojapelo gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.