Twee sterf ná bakkie en skoolbus bots

Die bakkie en bus wat gebots het. Foto: ER24

Die bakkie en bus wat gebots het. Foto: ER24

Twee mense is dood en sowat 30 kinders beseer nadat ʼn skoolbus en ʼn bakkie Donderdagoggend reg van voor naby Kuruman in die Noord-Kaap gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het op die Edendale-grondpad plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms op die toneel is die bus en die bakkie in die middel van die pad aangetref. Kinders wat in die bus was, het op die toneel rondgeloop. Nagenoeg 30 van hulle het geringe beserings opgedoen,” het Meiring gesê.

“Drie mense was in die wrak van die bakkie vasgekeer. Die bestuurder was in ʼn kritieke toestand en ʼn man en ʼn vrou wat langs hom gesit het, was reeds dood.” Die pasiënt en oorledenes moes uit die wrak gesny word.

Meiring het gesê die busbestuurder het in ʼn kritieke toestand langs die bus gelê.

“Die twee kritiek beseerde bestuurders is op die toneel gestabiliseer en na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling. Van die kinders is ook na hospitale geneem vir waarneming.”

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.