Twee mense is dood en drie beseer nadat ʼn motor Sondagaand op die N4-snelweg naby Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, die pad verlaat en verskeie kere gerol het.
“ʼn Vrou is uit die voertuig geslinger terwyl dit gerol het. Sy het kritieke beserings opgedoen en moes met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem word,” het Santi Steinmann, woordvoerder vir Netcare 911, gesê.
“Twee mans is op die toneel dood verklaar, en twee insittendes het ernstige beserings opgedoen.”
Die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.