Twee sterf ná Secunda-hameraanval, jong man in hof

Argieffoto

Argieffoto

Adam Muller (19), wat glo Vrydag vyf mense in Secunda, Mpumalanga, lukraak met ʼn hamer aangeval en erg beseer het, het Maandag in die dorp se landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en drie van poging tot moord.

Brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê Muller het glo omstreeks 10:30 in die sakekern op twee mans afgestorm en hulle oor die kop met die hamer geslaan.

Hy wou daarna glo by ʼn winkel instorm, maar die deure is vinnig gesluit, waarna hy die winkel se venster probeer stukkend slaan het.

Muller het na bewering daarna ʼn man en sy verloofde aangeval en oor die kop geslaan. Die paartjie se tweejarige dogtertjie was saam met hulle.

Nóg ʼn man het onder hom deurgeloop voordat ʼn verkeersbeampte hom aangekeer en ʼn einde aan die moordtog gebring het. “Al vyf slagoffers is na nabygeleë hospitale geneem, waar twee van hulle weens hul beserings beswyk het,” het Mohlala gesê.

Maroela Media het verneem een van die slagoffers wat gesterf het, is Lourens de Lange wat saam met sy verloofde aangeval is. Die naam van die ander oorledene is nog nie bekend nie.

Die motief vir die aanvalle word nog ondersoek.

Buiten die aanklagte van moord en poging tot moord, word hy ook aangekla van opsetlike saakbeskadiging.
Muller moet weer op 28 April in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding tot dan.

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Waarom Adam, waarom? Jy was daardie oomblikke nie “Muller” maar “Maller”. So jonk en moontlik in die tronk. WAAROM ADAM ??

OP ·

Van 6 uur af is 10 uit die totale publikasies onder die nuus hofie oor moord.
Alles so onnodig. Onskuldige mense. Genade nee. Ek dink daars seker 10% van die land se mense oor wat nie deur moord aangeraak is nie. Daars geen konsekwensie meer nie. Dit moet stop en al wat gaan werk lyk my is die doodstraf.

Innige simpatie met die gesinne wat die hartseer moet deurmaak.

Eish! ·

Nee, rerig? So ‘n mens is sekerlik nie normaal nie. My eerste gedagte was maller as mal. Wat op dees aarde kan iemand so laat optree?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.