Twee sterf nadat vragmotor hulle tref

Ongeluk op die M7 in Durban (17 Junie 2017)

Twee mans is Saterdag in die vroeë oggendure dood en nog ʼn man ernstig beseer nadat ʼn vragmotor hulle op die M7 voor Titrenweg in Durban getref het.

“ʼn Motor het onklaar geraak en ʼn tweede motor het stilgehou om bystand te lewer, toe ʼn vragmotor albei voertuie en die mans getref het,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê. “Paramedici is omstreeks 00:30 na die toneel ontbied.”

Twee mans, een in sy 20’s en een in sy 50’s, het noodlottige beserings opgedoen en paramedici kon niks verder vir hulle doen nie. Hulle is op die toneel dood verklaar.

“Een man, ook in sy 20’s, was onder die motor vasgekeer en die Durbanse brandweer moes spesiale toerusting gebruik om hom te bevry. Hy is met ernstige beserings na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Jamieson bygevoeg.

Die M7 is gesluit vir die polisie om hul ondersoek af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann Marx ·

‘n Mens is nie eintlik verbaas om van sulke voorvalle te lees nie. Hier in Gauteng was die hoof-weë om die stad altyd oop met genoeg spasie langs die bane vir voertuie wat onklaar raak. Tussen die twee hoof paaie was ook altyd net gras met ‘n ry bosse in die middel om aankomende verkeer se ligte te dof…..en wanneer daar ‘n ongeluk was kon nooddienste daar ry en van die een kant van die hoofweg na die anderkant uitkom sonder om te gaan soek na die volgende afrit. Intussen het ons paaie verander in kanaal-slote met groot sementblokke weerskante. Busse, taxi’s en motorfietse jaag in die geelstrepe asof dit nog ‘n baan is….en as daar ‘n ongeluk is moet nooddienste die naaste afrit gaan soek…en deur opgehoopte verkeer vleg om by die noodsituasie uit te kom. Om vandag se dae in jou onklaar voertuig te bly sit in die geelstreep terwyl jy wag vir hulp….grens aan selfmoord.

Asjas ·

Kon dit self nie beter stel nie. Absoluut die waarheid, onaangenaam maar waar. Kan nie waag om in ‘n geel streep te gaan staan nie. Ek moes onlangs ‘n band ruil nadat ons ‘n slag gat getref het terwyl my man verkeer reguleer sodat ek dit veilig kan doen want nes jy se, die noodbaan is deesdae ekstra baan vir Taxi’s, motorfietse, mense op en aflaai en vinnige karre wat nie saam met verkeer wil vloei nie. Ek was paar keer amper omgeruk so vinnig jaag mense verby. Ek is nie vies omdat niemand stop en help nie, ek doen dit ook nie want dis net te gevaarlik maar ry tog asseblief net stadiger??

thelsa ·

As ek na die fotos kyk lyk dit op die oog af of die BMW eerder teen iets vvasgery het. Die berig meld die vragmotor het in die 2 motors vasgery. BMW is aan regterkant voor beskadig. Die ‘mags’ op die BMW dui ook vir my ietwat op spoed. Hoop ek is verkeerd

Asjas ·

BMW ‘s is gemaak vir spoed van die bumper tot die kattebak. Wat die stamp voor betref, dis niks snaaks om op ‘n snelweg U draai te maak en met jou neus in aankomende verkeer te sit nie, hang seker af watse hulp verleen was.

Johan ·

Hoe dui die “mags” op die BMW vir jou op spoed Thelsa? En die mags op die bakkie dan?

Veteraanbestuurder ·

Ek kort 13 dae om dan vir 57 jaar ongeluksvry op ons netwerk van uiters dodelike paaie te bestuur. Die K53-kursus is ‘n sirkus om mee te begin. Ek het self die boekie gekoop en ‘n studie daarvan gemaak. Daar is nie genoeg spasie hier om my redes en voorstelle te gee.
Wat hierdie ongeluk betref skyn dit asof bestuurders reken hulle is alleen op die pad laatnag/vroegoggend. Dit sluit ook verkeersligte, stopstrate ens. in waar voertuie mekaar kan ‘ontmoet’. Selfs in die woestyn moet jy bestuur asof daar ander voertuie is want sê nou maar net daar is TOEVALLIG ‘n ander een?
Bestuur ALTYD asof daar ander voertuie op die pad is!!!! want dalk het jy (en die onskuldige) nie ‘n tweede kans. Die hoofsaak is egter GEDULD, GEDULD, GEDULD,geduld, geduld ad infinitum . . .

Johann Marx ·

Baie geluk Veteraanbestuurder. Jy bly seker in Put Sonder Gat? Ek is ‘n padgebruiker in Gauteng…en het nog 200 dae oor om dan vir ‘n jaar lank in Gauteng te bestuur sonder dat een of ander moroon in my vas wetter!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.