Twee sterf toe gemeenskap reg in eie hande neem

(Argieffoto: ER24)

Twee mans is vroeg Donderdagoggend dood en een beseer toe ʼn gemeenskap in Bloemfontein glo reg in eie hande geneem het.

Paramedici is na ʼn woonstelblok in die Brandwag-omgewing ontbied waar talle wetstoepassers en ʼn groot skare mense om ʼn man saamgedrom het, het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. Die man is vir ligte beserings behandel en na ʼn hospitaal geneem.

Kort daarna is nooddienste na Krigestraat vir ʼn soortgelyke voorval ontbied. ʼn Man het ʼn ernstige kopbesering opgedoen en het reeds aan sy beserings beswyk. Hy is op die toneel dood verklaar.

Nadat nooddienste die toneel in Krigestraat verlaat het, is hulle weer na die woonstelblok in Brandwag ontbied. Wetstoepassers was besig om ʼn groot skare van die toneel te verwyder. Nóg ʼn man wat reeds aan sy beserings beswyk het, is by die woonstelblok aangetref.

Die besonderhede rondom hierdie voorvalle is nog onbekend, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.

Maroela Media het polisie vir kommentaar genader en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.