Twee sterf toe helikopter in die Vrystaat neerstort

Douw Wentzel sr. wat in die helikopterongeluk gesterf het (Foto: Facebook)

ʼn Boer van die Vrede-distrik en nog ʼn boer se seun is Vrydag dood toe ʼn helikopter in Heilbron neergestort het.

Die twee boere en hul seuns was op pad terug huis toe van die Nampo-oesdag op Bothaville in die Vrystaat toe die ongeluk plaasgevind het.

“Werkers van die plaas Brakpan in Heilbron het omstreeks 17:30 gesien hoe die helikopter neerstort,” het brig. Sam Makhele, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media gesê.

Maroela Media verneem die twee boere was Douw Wentzel en Louw Deale, albei van Vrede-distrik, wat in die helikopter gevlieg het. Douw se seun, Douw jr., en Louw se seun, Andre, was saam met hulle in die ongeluk.

Douw en Andre is tydens die ongeluk oorlede. Douw jr. (14) en Louw (49) het die ongeluk oorleef.

“Een van die mans en een van die seuns is in ʼn kritieke toestand na die plaaslike hospitaal in Heilbron geneem voor hulle oorgeplaas is na die Unie-hospitaal in Alberton,” het Makhele bygevoeg. Maroela verneem hul toestand is kritiek, maar stabiel.

Hoërskool Wilgerivier het op sosiale media bevestig Douw jr., ʼn graad 9-leerling aan die skool, is ernstig beseer. “Ons vra dat julle die gesin in julle gebede sal opdra.”

NG Kerk Frankfort het ook hul meegevoel uitgespreek met die Wentzel-gesin met die afsterwe van Douw sr. en aan die Deale-gesin met die afsterwe van Andre.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lollie ·

So bitterlik hartseer! ‘n Dag wat pa en seun saam geniet het en nou so tragies moet eindig. Sterkte aan albei families vir hulle verliese. Nampo sal vir die twee families nooit weer dieselfde betekenis hê nie. Ons bid vir julle vir krag en sterkte!

Eerste keer ·

Eerste keer wat ek die oesdagskou kon bywoon. Wat ‘n uitmuntende organisering met skoon toilette en terrein deurentyd. Natuurlik het dit ook te doen met die kaliber mense wat dit bywoon.
Daarom is dit soveel meer tragies dat die ongeluk ‘n wonderlike dag op hierdie manier ten einde moes bring.
Sterkte aan diegene betrokke by hierdie tragedie.

Ben Esterhuizen ·

R. I. P. Hartseer dag vir die gesinne betrokke, seën en sterkte aan julle.

Jan Lubbe ·

Baie hartseer. Ons gebede gaan uit aan die gesinne. ????

Oosthuizens ·

Baie jammer om te hoor van tragiese ongeluk.Ons bid vir julle.

SARIE VAN HEERDEN ·

Toe ek die berig lees het dit my jare terug gevat toe ek die name lees van die betrokkenes. In my laerskooljare op Vrede was daar ‘n Marie Deale saam met my. Dis ‘n ongewone van wat ek nie weer van gehoor het nie. Ook Onthou ek my ma wat van die Wentzels gepraat het. Dis almal mense wat blykbaar geslagte in Vrede gewoon het en dink ek vandag aan hulle. So bring Maroela soms ons gedagtes terug na die ver verlede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.