Twee sterf toe helikopter neerstort

Argieffoto

Twee mense is dood toe ʼn helikopter in ʼn oop veld in die Delmas-omgewing in Mpumalanga neergestort het.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid, het aan Maroela Media gesê dit is ʼn Robinson R44 wat neergestort het. Hy het bevestig twee mense is op die toneel dood, maar kon nie onmiddellik meer inligting gee nie omdat owerhede steeds op die toneel besig is om ondersoek in te stel.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is na die toneel ontbied en het die wrak van die helikopter in die veld aangetref. Volgens Meiring is die stert van die helikopter ongeveer 150 m weg van die wrak aangetref.

“By nadere ondersoek het paramedici twee mans in die wrak van die helikopter gevind. Albei mans het reeds aan hul besering beswyk. Hulle is deur paramedici van ʼn ander nooddiens dood verklaar,” het Meiring gesê.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat polisiebeamptes op die toneel van ʼn noodlottige helikopterongeluk naby Delmas is en besig is om ondersoek in te stel. Hy het gesê meer inligting sal later bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Daar is hoegenaamd geen ondersoek wat polisiebeamptes kan doen rakende ‘n vliegongeluk nie. Dit is Departement Burgerlugvaart se werk.

Shaun ·

Die BLO ondersoek die ongeluk en die oorsaak . SAPS ondersoek die onnatuurlike sterftes . Daar moet n Geregtelike Ondersoek gedoen word in alle gevalle van onnatuurlike sterfte . Hoop dit klaar dit op

Mich ·

Ag, Cherokee.
Dis presies wat M/Media tog in die berig gesê het.
Paragraaf 2 verwys.

doris ·

Cherokee ek moet sê ek stem nogal met jou saam Burgerlugvaart is die mense wat kennis het van vliegongelukke definetief nie die polisie nie.

Ockert ·

Klem op Burgerlugvaartowerheid in paragraaf twee soos deur Mich ook uit gewys.

Loods ·

Enige vlieg-ongeluk moet ook by SAPS aangemeld word.

Groot slag vir veral die boerdery gemeenskap, RIV :(

Suné ·

Dankie Loods, jy sê dit mooi, party mense moet net altyd van beter weet en dan eintlik seker maar net om iets te sê, né Mich en Doris? hulle werk steeds saam.

RIV

Just saying ·

Hoeveel mense moet nou nog sterf in daai Robinson R22 en R44….. Sal interessant wees om uit te vind hoeveel Robinson helikopters in die laaste 20 jaar geval het…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.