Twee sterf toe klip voertuig tref

Die voertuig wat deur die klip getref is. Foto: IPSS Medical Rescue

Twee mense is dood nadat ʼn reuseklip Woensdagaand van ʼn brug in die Umhlali-gebied in KwaZulu-Natal op ʼn voertuig op die N2-snelweg onder die brug geval het.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het in ʼn verklaring gesê die voorval het op die N2-Noord tussen Tongaat en Ballito gebeur. Volgens Herbst was die slagoffers ʼn jong vrou en ʼn sewejarige seun.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het egter aan Maroela Media gesê die slagoffers was ʼn 16-jarige meisie en sewejarige seun.

Herbst het gesê die klip is van die brug af gegooi en het die windskerm van die voertuig onder op die snelweg getref. Die klip het die bestuurder van die voertuig gemis, maar die ander twee insittendes in die voertuig is ernstig beseer.

“Terwyl ons reaksie-spanne op pad was na die toneel, het ons ʼn tweede oproep gekry om te sê die bestuurder van die voertuig is op pad na ʼn hospitaal in Ballito. Ons spanne het van rigting verander en die voertuig op pad na die hospitaal ontmoet. Ongelukkig is albei slagoffers met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar,” het Herbst gesê.

Reaction Unit South Africa het op hul beurt in ʼn verklaring gesê daar word beweer dat verdagtes vermoedelik die klip op die motor gegooi het met die bedoeling dat die voertuig sou stilhou en dat die insittendes dan beroof kon word.

Zwane kon nie bevestig dat die klip met opset van die brug af op die voertuig gegooi is of dat roof die motief vir die voorval was nie. Hy het gesê dit is nog nie duidelik wat presies gebeur het nie. ʼn Geregtelike doodsondersoek word tans gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

John Samuel ·

Ja, want in die wonderlike land val klippe mos “vanself” van brûe af op motors vir geen rede nie…
En so verloor n gesin beide hulle kinders.

Langtoon ·

Wat n aaklige klomp mense wat die land met goeie mense deel!!
Kan jy glo mens het sulke wreedheid in jou hart, nie n idee wat hul doen nie, dink net aan die plundering van die voertuig!!
Jammer vir die mense wat so wreed hul lewe moes verloor asook die geweldige trauma vir die bestuurder!!
Ek word woedend vir die duiwelse mense wat tussen ons rondloop!

ACCA ·

Hoe dom kan n mens nie wees nie. Kan nog nie bevestig of die klip met opset gegooi is nie. Dit is met opset. Hy val nie vanself van n brug af nie. My innige simpatie met die familie maar met die wetteloosheid in die land en die draak my nie agtige houding van polisie gaan ons nog lank sukkel

Carel 2 ·

Ja Mr Zwane…..klippe val mos Sommer uit die lug uit????

Clene ·

Dit is met opset van wanneer val so ‘n groot klip van ‘n brug af……

Chris Noordkus ·

uMhlalai is noord van Ballito, nie tussen Ballito en Tongaat nie. Hierdie is nie die eerste keer dat hierdie tipe insident op die Noordkus N2 plaas vind nie. In die verlede is die Nkosi van die gebied betrek om hierdie optrede hok te slaan .Ten tweede ,as daar nou een ding wat jy nie hier doen nie en dit is om in die aand op hierdie pad te ry .

Wayne ·

Dis moord. Maar vertrou sie SAPS en die DOV om dit af te water na poging tot roof.

DOUW ·

‘n Klip val nie goedsmoeds van ‘n brug af op ‘n motor nie… Selfs ‘n redelike klein klippie wat ‘n motor tref wat teen die normale snelweg-spoed van 120km/uur beweeg is ‘n dodelike projektiel. wat kan veroorsaak dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor! Hierdie was beplande skade, onge-ag die gevolge vir die insittendes, en moet opgevolg word as niks anders as poging tot moord nie…

Frikkie Geld en huis ·

Hoekom sien jy dit as poging tot moord, terwyl twee mense dood is, of is jy werksaam by die DOV??

Andre ·

Dit het met ons ook al gebeur . As ek deesdae ry , verander ek van baan net voor ek onder deur n brug ry ( as die verkeer dit toelaat) , hoop ek ry hulle planne in die wiele.

Gert Rautenbach ·

Ons was in n soortgelyke situasie op 5 Des 3 weke gelede. Ons het in KZN op die N2 Suid voor Port Shepstone gery toe 2 persone vanaf n oorbrug n baksteen op ons windskerm gegooi het. Die windskerm het gebars maar ons glo danksy die “smash and grab” het die baksteen nie deur die ruit gegaan nie. Ons het besluit om nie te stop nie want ons was bang dat daar mense langs die pad sou wees wat ons roof. By navrae het ons verneem dat dit dikwels gebeur maar dat die polisie niks daaraan doen nie. Hoeveel soortgelyke tragedies moet nog gebeur ??

Frans C ·

Wonderlike land, klippe klim oor brugreling en val op voertuie.Wonderlike land? Nee ‘n siek land met siek moordadige mense,wat nou spoorloos verdwyn het.Is daar woorde om die families van die wat so geweldadig tot hul einde gekom het te troos.

Niks wat enigiemand skryf kan die afskuwelike daad ongedaan maak nie.Sterkte vir die familie in hul beproewing.

Josua Keys ·

Dit het gereeld gebeur in die laat 80s en vroë 90s en was dit met opset gedoen dit was so ers dat die weermag ingespan moes word om die brue op die hoefwee te patroleer en daar wag te staan, dit het niks met roof te doen nie, dit word met opset gedoen om die insittendes te dood, dit is ‘n besliste vorm van terrorisme en word met opdrag uitgevoer, dit is ‘n lafaard wat dit doen en moet op die plek doodgeskiet word as hulle gevang word, dit is net ‘n kwessie van tyd dan gaan hulle weer van vooraf begin om die lafhartige dade uit te voer. Dit het gereeld tussen Durban en Margate gebeur ek was ook n slagoffer daarvan gelukkig was niemand ernstig beseer nie. Ek sal tensterkste alle torriste aanbeveel om nie dieselfde lyn te volg sodra jy onder n brug deurbeweeg nie en net voor die brug vinnig poed te verminder asook van rigting verander (met veiligheid natuurlik ) al moet hulle oor die geel lyn beweeg om dit te doen, wees eerder daarop voorbery as om n klip teen 120 km in jou gesig te kry. Ek hoop regtig mense gaan my skrywe lees en dringend hieraan aandag gee dit kan lewens red.

lba ·

Polisie soek al klaar verskonings vir skuliges. Tipies van sap in n land van onheil

LR ·

Wat n SIEK land waarin ons woon. Dit voel soms vir my hierdie land is terminaal siek. CR gaan nie die regte antibiotika wees vir genesing nie dit kan slegs van BO kom.
Die mense wat sulke goed doen verdien nie een teug suurstof nie. Ek staan verstom oordie weteloosheid in hierdie land. Dit blyk dat dit nie eens elders in Afrika so gaan nie. Lyk my die slegstes van die slegtes moes jare gelede verdryf gewees het in Afrika en het hulle toe in die suidpunt kom vestig. Hoe gaan ons by hierdie mense die algemeen aanvaarde waardes vestig wat nodig is om die land voorentoe te vat. Anders moet ons maar die pad vat.

Gert Rautenbach ·

Ons was in n soortgelyke situasie op 5 Des, 3 weke gelede. Ons het in KZN op die N2 Suid gery. Omtrent 15 km voor Port Shepstone het 2 mense n baksteen vanaf n oorbrug op ons windskerm gegooi. Die windskerm het gebars maar ek glo danksy die “smash and grab” het hy nie deur die windskem gegaan nie. Ons het stadig aanhou ry want ons was bang om te stop, juis oor aanvalle. By navrae het ons verneem dat dit gereeld gebeur maar dat die polisie niks daaraan doen nie. Hoeveel mense moet nog hierdeur gaan voor daar opgetree gaan word?

Coenie ·

Hoë profiel polisieman wat sy ik verklap sodra hy sy mond oopmaak.

Cherokee ·

Enkele jare gelede het ek Durban ingery op die N3 toe ‘n ‘mens’ van die brug afgeval het kort voor my kar. Die pad was baie besig maar ek het gelukkig ‘n opening na regs gehad en uitgeswaai. Die vallende ‘liggaam’ met bene en arms wat geswaai het, het my kar met millimeters gemis. Toe ek terugkyk was dit ‘n 100meter-plus terug en hope karre het stil gehou. Ek het aanhou ry.

Ek moes kyk wat ek doen in digte verkeer en het nie aandag geskenk aan dit wat geval het nie maar dit het geneig te lyk asof dit gehop het toe dit geval het. Dink nie ‘n mens se liggaam sal nie hop tydens ‘n val nie. Dit is jammer dat ek nie stilgehou het om seker te maak nie (want soveel karre het agter my stil gehou dat dit nie nodig was om nog verdere verkeersophoping te veroorsaak nie) maar miskien was dit ‘n pop met ‘n oorpak aan.

Carel ·

En moet tog nie aan die mense vat wie die klip op die motor gegooi het nie, dan word dit aanranding waarvoor jy sal boet . . .

Kat ·

Die klippe gaan aangekla word want almal is mos onskuldig in SA

Jakoba ·

Al is daar eendag nie meer die mense in dié land om sulke onmenslike dade te vertel nie sàl die KLIPPE die waarheid uitbasuin en die onreg wat gepleeg was SAL vergeld word. Dit werk in dié lewe so ….. STERKTE AAN DIE BETROKKENES MAG GENESING EN VREDE JUL DIE ONGELUK HELP VERWERK EN OORWIN.

PJC ·

Sodra ek iemand op ń oorbrug sien staan begin ek dadelik spoed verminder omdat spoed saam met hierdie klippe wat gegooi word ń dodelike kombinasie is. Hoe minder die spoed hoe minder die skade. Die doel van klipgooiery is defnitief om mense te beseer of te dood.

Adrian ·

Alle brue insluitend voetbrue moet aan die kante toegespan word sodat geen kromineel die beplande moord kan uitvoer nie

Jacob ·

Daardie stuk pad is mos n tolpad Wat doen Sanral om die betaalende motoriste se veiligheid te waarborg ??

Wickus de Bruin ·

Moord bly moord. Ek hoop die SAPD doen regtig moeite om die moordenaar/s op te spoor.

Schalk ·

Maak nie saak wat wie dink wat ek nou gaan skryf nie. Het dit met ‘n hooggeplaaste politieke leier gebeur was die polisiemag en almal in rep en roer met volle ondersteuning van die politiese party aan bewind.
Wie gee die politici die mag om met mense se lewens te speel deur kriminele te laat wegkom met sulke dinge?
Waarom moet ons ons self beskerm terwyl ons belasting geld vir ander doelwitte gebruik word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.