Twee sterf toe skote in Jhb klap

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Twee mans is Sondagmiddag dood toe ʼn skietery in die Johannesburgse middestad uitgebreek het. ʼn 50-jarige veiligheidswag is ook tydens die voorval beseer.

Die name en besonderhede van die oorledenes is nie in dié stadium bekend nie. Dit is ook nie duidelik wat tot die skietery gelei het of wie daarvoor verantwoordelik was nie.

Volgens Ross Campbell, woordvoerder vir ER24, was nooddienswerkers om 13:23 by die toneel op die hoek van Twist- en Pleinstraat.

“Die mans het onderskeidelik in die straat en op die sypaadjie gelê. Een het ʼn skietwond in die kop en die ander een ʼn skietwond in sy bors gehad. Hulle het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.”

Die veiligheidswag is op die toneel behandel voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal vir behandeling geneem is.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.