Twee sterf toe vragmotor, bakkie bots

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Twee mense is dood toe ʼn bakkie en ʼn vragmotor Woensdagoggend op die N3 buite Warden in die Vrystaat reg van voor gebots het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 06:25 na die toneel ongeveer 30 km buite Warden in die rigting van Villiers ontbied.

“Die vinnige bane in die noord- en suidwaartse rigting was met wrakstukke en die verwronge raamwerke van die voertuie besaaid. Die wrakke het sowat 50 m van mekaar af gestaan,” het Botha gesê.

“By nadere ondersoek het paramedici bevind dat albei bestuurders op slag dood is. Die passasier in die bakkie was in ʼn ernstige toestand, terwyl die passasier in die vragmotor slegs geringe beserings opgedoen het. Hy het mediese behandeling van die hand gewys.”

Botha het gesê die ernstig beseerde man is op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is. Die botsing sal deur die polisie ondersoek word.

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Irene ·

Vragmotors gee nie om nie hulle kom niks oor nie kom kyk in Pretoria hoe hulle ry hoort sekere tyd nie op paaie nie

christine ·

Ek het ook twee familielede presies daar op dieselfde plek verloor. Ons is in groot gevaar as mense lisensies verkoop aan mense met geen dieptesig nie.

KP ·

Daar is n dubbele sperstreep wonder wat maak altwee aan dieselfde kant van die pad.

Karma ·

@Irene, hoekom her-pos jy jouself 5 keer? Ons het jou die 1ste keer gehoor …. Rof-weg veralgemend sê ek nou, egter, dat ek heeltemal met jou saamstem. Vragmotors (bestuurders) gee oor die algemeen nie ‘n jota of tittel om oor hoe hulle ry nie. Gisteraand, op die stuk pad tussen die twee verkeersligte by Panorama, Worcester, kom ‘n dubbel-wa vragmotor op my ou klein tjorrie afgestorm, waar ek (in die linkerkantse laan) heel ordenlik by die 80km/uur spoedgrens hou en flikker sy ligte vir my. Daar is ‘n voertuig aan my regterkant – waar de vloek moet ék dan heen foeter sodat die groot meneer verby kan kom? Ek sien baie swaar vragmotors wat oorlaai is, of sleg gelaai is, wat sonder kop- of remligte ry, wat nie by die spoedgrens hou nie ens. ens. ens.

Geen respek vir orde ·

In ons failed state is daar nie enige respek vir reels en orde nie. Die gepeupel is te dom om te verstaan waarom daar in spoedperk gery moet word, waarom vragmotors nie kan ry soos hul wil nie ens.

Joann ·

Mense dit is omdat daar so baie bestuurs lisensies op swartmark gekoop word. Hul ken nie reels en wette.

Jen ·

My seun en ek het die naweek teruggekeer Bloemfontein toe vanaf Klerkdorp Sondagaand. My seun het bestuur en ek was besig op my tablet. Toe ek opkyk sien ek ons ry in die geelstreep baan en dat ‘n trok verby ons kom van voor. Gelukkig het my seun betyds gesien die trok gaan, met ons steeds in die baan, verbysteek van voor en gelukkig was daar ‘n geelstreepbaan waarin hy kon beweeg. Hy het als kalm hanteer. Groot gedeeltes van die pad terug het nie geelstrepe nie, so dit kon soveel ander verloop het. Dit het ongelukkig al soveel maal gebeur in die jare wat ek langpad ry dat trokke van voor verby steek en nie omgee waar jy heen gaan nie. Ek kan net my Hemelse Pappa, wat altyd in beheer is, dank!!

Pops ·

Karma, soms as mens van jou selfoon af werk dink jy die kommentaar het nie deurgegaan nie, of dit word sommer vanself meer as 1 keer gelaai.
En ek stem saam met Irene, probeer in die oggende of middae op die N1 tussen Johannesburg en Pretoria ry en sien hoeveel swaarvoertuie daar op die pad is, en dan is sommiges nog sommer langs mekaar in 3 bane. Hulle jaag om voor ander voertuie in te kom, en al ry jyself 120 km/h met jou motor sukkel jy om hulle verby te gaan. Persoonlik dink ek ‘n beton-middelman op die N3 sal help met voertuie wat mekaar in teenoorgestelde bane verbygaan, want op daardie pad het trokke geen respek vir niemand nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.