Twee sterf tydens Limpopo-gyselaarsdrama

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

ʼn 50-jarige vrou is Sondag doodgeskiet terwyl sy en haar 16-jarige dogter in ʼn nedersetting digby Polokwane ontvoer en as gyselaars aangehou is.

Die polisie het die 33-jarige man wat hulle aangehou het, doodgeskiet.

Joel Masila het Sarah Mokwela Sondag omstreeks 07:00 by haar huis in die GaMatsia-nedersetting, naby die Universiteit van Limpopo, ontvoer. Inwoners van die gebied het glo gesien hoe hy met haar in die bosse in verdwyn.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het inligting ontvang dat Masila hom in ʼn huis in dieselfde nedersetting bevind. Hulle is omstreeks 15:00 daarheen en het verskeie skote in die huis hoor klap.

Die polisie se gyselaarsonderhandelaars en -taakspan het met Masila probeer onderhandel, maar elke keer wat hulle die huis genader het, is daar op hulle losgebrand.

“Na ongeveer drie uur se pogings om met Masila te onderhandel, is daar besluit om die huis binne te gaan,” sê Mojapelo.

“Hy het blykbaar voortgegaan om op die polisie te vuur nadat hulle die huis in is en het onder meer een van die beamptes se skilde beskadig.”

Masila is doodgeskiet.

Volgens die polisie het Masila glo eers vir Mokwela doodgeskiet en toe in ʼn badkamer in die huis gaan skuil. Mokwela se liggaam is later in die bosse gevind. Sy het ʼn skietwond in die kop gehad.

Masila het Mokwela se dogter ook aangehou, maar sy kon vroeër deur ʼn venster ontsnap.

Sy is na ʼn hospitaal vir mediese behandeling geneem.

“Dit is nog nie duidelik waarom die man die vrou en haar dogter as gyselaar aangehou het nie. Die polisieondersoek duur voort.”

Voorlopige inligting dui daarop dat die vuurwapen wat Masila gebruik het, aan sy broer, ʼn lid van die Johannesburgse metropolisie, behoort.

Die voorval is ook by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld.

ʼn Saak van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie is by die polisie in Mankweng aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Wat van ‘n klag van nalatigheid, dalk sameswering rakende die polisielid?

ES ·

Die broer het nou jare se moeilikheid… hoekom was sy vuurwapen nie veilig bewaar nie? Hoe het hy dit in die hande gekry?

Dis darem maar baie tragies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.